Die hulporganisasie Helpende Hand wil met sy vroetelmou-projek weer demensie- en alzheimerpasiënte help deur hul hande en verstand besig te hou.


Net soos ’n kind wat deur ’n kombers of speelding gesus word, só word iemand wat met demensie of alzheimersiekte leef, deur ’n vroetelmou gesus.

Helpende Hand het weer vanjaar sy Breinaald-projek van stapel gestuur, waar die gemeenskap vroetelmoue brei om pasiënte soos dié se gemoedere te help verbeter.

“Die hele land se mense was gaande oor die projek en mense by die werkplek, skole en tehuise het saam gebrei,” sê Alisha de Lange, streekorganiseerder van die Wes-Kaap. “Ons wil in hierdie tyd eintlik net Alzheimer- en demensie-pasiënte se hande en verstand besig hou.”

Mense wat met demensie of alzheimersiekte leef, soek dikwels na iets om aan te peuter. Hulle trek of byt aan hul klere, bal hul vuiste saam, vryf hul vingers teen mekaar of krap selfs hul arms stukkend. Hulle voel telkemale geïrriteerd of angstig as hulle nie uiting aan hul emosies kan gee nie. Dit is waarom dié mense soms gewelddadig raak.

Vroetelmoue help om hierdie pasiënte se rusteloosheid te verminder en voorsien ook ure se stimulasie en pret. Dit kan gebrei of gehekel word en op die mou word allerhande items vasgewerk waarmee die pasiënte kan peuter, soos gebreide wurms, krale, knopies, klokkies, lint, spons of selfs net stukkies wol.

Studies by versorgingseenhede wys dat hierdie soort moue baie voordelig is vir die gemoedstoestand van demensie- en Alzheimer-pasiënte.

“Baie van die vrywilligers het familie of vriende wat aan demensie of alzheimersiekte ly en hulle verstaan die frustrasie wat sulke mense beleef. Hulle wou graag verligting bring deur middel van ? vroetelmou,” voeg De Lange by. “Ons het ’n geskatte waarde van byna R20 000 se vroetelmoue ontvang, wat op 446 te staan gekom het. Hierdie moue is by 15 tehuise in die streek afgelewer.”

Vroetelmoue is egter nie die enigste manier om hierdie pasiënte te sus nie. “Saam met die vroetelmoue het ons ook heelwat vroetelkomberse ontvang, wat baie gewild is onder die vrywilligers wat nie kan brei nie, maar steeds kreatief wil wees.

“Hierdie projek is danksy die publiek se skenkings en die vrywilligers wat die nood raakgesien het, steeds ? reusesukses,” sê De Lange.. As jy dus kan brei of hekel, kan jy betrokke raak. As jy nie ’n brei-foendi is nie, maar steeds ’n bydrae wil lewer, kan jy wol by jou naaste Helpende Hand-tak aflaai, ’n vroetelkombers maak of ’n finansiële skenking vir die projek doen.

Kontak De Lange per e-pos by alisha@helpendehand.co.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.