Dis nie aldag dat mens kans kry om ’n wêreldkampioen terug te verwelkom nie.
Maandag is daar dus ’n groot ophef gemaak van Breyton Poole (17) se eerste skooldag terug by Paul Roos Gimnasium (PRG) nadat hy verlede week as die wêreldkampioen in Nairobi, Kenia gekroon is by die IAAF se o.18-wêreldkampioenskap.
Poole, ’n gr. 11-leerder by Paul Roos, het met ’n hoogte van 2,24 m geseëvier, 52 cm hoër as sy lengte van 1,72 m.
By Maandagoggend se saalbyeenkoms, die eerste ná die skoolvakansie, het ’n TV-span van kykNet, sowel as lede van Poole se atletiekklub, Harriers, die 17-jarige wêreldkampioen terugverwelkom.
Andre van Staden, rektor van PRG, het by die byeenkoms, Poole se medalje wat hy by die wêreldkampioenskap verower het, weer aan hom oorhandig.
Poole het behoorlik soos ’n veteraanatleet gelyk toe hy al die kameras, onderhoude en aandag moes trotseer.
“Dit voel ongelooflik, ek sou nooit eens kon dink dat ek ’n wêreld-kampioen kon word nie,””het hy in ’n onderhoud met Eikestadnuus gesê.
“Dit was ’n spesiale oomblik vir my en my familie, en vir hulle om dit saam met my in Kenia te kon beleef.”