Breyton wéér Let’s Play-ster

Breyton Poole is vandeesmaand vir die tweede keer ooit as Eikestanduus se Let’s Play-sportster van die Maand aangewys, maar hierdie keer vir sy grootste prestasie nog.


Breyton Poole is vandeesmaand vir die tweede keer ooit as Eikestanduus se Let’s Play-sportster van die Maand aangewys, maar hierdie keer vir sy grootste prestasie nog.

Die gr. 11-leerder van Paul Roos Gimnasium is Eikestadnuus en SuperSport se Let’s Play-sportster van die Maand vir Julie, ná hy as die wêreldkampioen in Nairobi, Kenia, gekroon is by die IAAF se o.18-wêreldkampioenskap.

Hier het Poole, wat maar 1,72 m lank was, 2,24 m hoog gespring om die kroon as die wêreld se beste o. 18-hoogspringer.

“Dit voel ongelooflik, ek sou nooit eens kon dink dat ek ’n wêreldkampioen kon word nie,” het hy in ’n onderhoud met Eikestadnuus gesê.

“Dit was ’n spesiale oomblik vir my en my familie, en vir hulle om dit saam met my in Kenia te kon beleef.”

Poole was ook in 2015 as een van SuperSport en Eikestadnuus se Let’s Play-sporsterre van die Maand benoem.

Destyds het Poole dié toekenning ontvang as gevolg van sy oorwinning by die nasionale atletiekkampioenskap vir hoërskole, waar hy die seuns se o.15-hoogspringtitel gewen het met ’n sprong van 1,97 m.

Daardie jaar het Poole onder meer die WP o.15-, Boland Skole-, Wes-Kaapse skole- en die SA o.15-titel gewen.

Poole, wat in die Strand woon, is ’n veelsydige sportman.

Hy het vir die WP se o.12-, o.13- en o.16-rugbyspanne gespeel en het ook WP-kleure in hokkie en Bolandkleure in gimnastiek.

Vroeër vanjaar is egter besluit dat hy op hoogspring sal fokus.

Dié besluit het vrugte afgewerp toe hy die SA skole-hoogspringrekord in Durban verbeter het met ’n hoogte van 2,18 m.

Bennie Schlechter, ’n afgetrede onderwyser van Stellenbosch, is Poole se afrigter.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.