In reaksie op die voorblad-artikel van Donderdag 7 Desember wil ons net die volgende regstel en die geleentheid gegun word om ons standpunt te stel (“Sentrum open wel”, Eikestadnuus).

Ons is lede van die gemeenskap, beide mans en vroue, wat sedert Mei vanjaar vergaderings en besprekings hou rakende die beoogde Thuthuzela-sorgsentrum (TTC) vir Idasvallei.

Almal was welkom by ons vele vergaderings, maar net soos die raadslede van Wyk 5 en 6, was Wendy Pekeur van Ubuntu Rural Women and Youth nie bereid om die vergaderings by te woon nie.

Ons is en was nog nooit gekant teen die TTC op enige plek in Stellenbosch nie. Ons soek ook geen politieke of ekonomiese vergunning nie, soos deur Pekeur in die artikel beweer word. Ons verteenwoordig slegs die gemeenskap. Ons is teleurgesteld oor hierdie ongegronde stellings rakende ons doelstellings.

Ons eerste skrywe is op 21 Junie aan die Universiteit Stellenbosch (US) en ander betrokke partye uitgereik, rakende die uitleg en funksionering van só ’n sentrum in Idasvallei. Ná vele e-posse en versoeke aan die partye het hulle geweier om ons te ontmoet.

’n Vergadering is toe op 6 September belê met verteenwoordigers van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), wat die TTC’s landwyd bestuur. Verteenwoordigers van die universiteit, plaaslike polisie, Stellenbosch Community Care en lede van die gemeenskap was teenwoordig, maar weer eens het die ander partye nie opgedaag nie.

Die volgende bekommernisse is uitgespreek:

  • Is daar ’n impakstudie deur die betrokke partye gedoen, om die impak van só ’n sentrum op die gemeenskap vas te stel?
  • Hoe en waar gaan die plek van veiligheid, wat deel van die TTC is, hanteer word? Wat van die sekuriteit en die gevare van só ’n plek van veiligheid in ’n woonbuurt?
  • Die Stellenbosch-munisipaliteit se betrokkenheid rakende die goedkeuring van die planne vir die sentrum met byvoorbeeld parkering, ensovoorts.
  • Gemeenskapsbetrokkenheid of werkskepping ten opsigte van die opgradering van die sentrum, soos aanvanklik belowe.

Op hierdie vergadering is daar deur die NVG en universiteit ooreengekom dat al die betrokke partye eers met die gemeenskap moet vergader en gesels voor die sentrum sou open.

Ná vele pogings kon ons uiteindelik ’n vergadering op 6 Oktober met die US en ander partye belê. Hier was dit vir ons duidelik dat die besluit om die sentrum te open slegs ’n sakebesluit vir die universiteit is. Ons het dieselfde vrae aan die teenwoordige partye gerig en ’n opvolg­vergadering sou ná ’n bespreking tussen die partye gereël word. Ons is later per e-pos ingelig dat die US nie middelman sou speel nie.

Ons glo dat ons, as ’n lewende gemeenskap in Stellenbosch, die reg het om te weet wat die impak van só ’n sentrum op ons gemeenskap gaan wees en ons voel gegrief dat groot instansies in ons gemeenskap eiendom bekom en bedryf sonder om die inwoners daarvan in te lig.

Bekommerde inwoners van Idasvallei,

Via WhatsApp

You need to be Logged In to leave a comment.