There was heavy traffic congestion through the streets of Stellenbosch, as supporters made their way to and from the Danie Craven Stadium. Stellenbosch residents have called for better traffic and parking control when big clashes are hosted at the venue in future. Photo: Francois Lombard


Die opeenhoping van verkeer in Stellenbosch is jare lank reeds ’n kopseer, maar volgens Roland Postma is daar ’n slim manier om die probleem die hoof te bied.

Postma, van die Young Urbanist Suid-Afrika, was Woensdag 8 Mei die gasspreker van die Stellenbosch-belangegroep.

Die Young Urbanist, saam met Stellenbosch-fietsry en ander belangegroepe, het onlangs hul teenkanting teen die plaaslike munisipaliteit se planne vir ’n vierverdieping-parkeerkompleks vir die middedorp uitgespreek.

Postma en ander teenstanders van die projek meen daar is beter maniere om die gebrek aan parkeerplek en die slakkepas-verkeer hok te slaan.

“Suid-Afrika het van die beste wetgewing en regulasies, maar daar is ’n gebrek aan implementering,” verduidelik Postma.

Hy meen dit is belangrik om die uiteindelike visie vir dorp, stad of land in gedagte te hou wanneer ontwikkel word, maar sê die visie moet ook oop wees vir verandering.

’n Voorstel van Postma is om gedeeltes van paaie toe te maak om meer ruimte vir voetgangers te skep. ’n Verbreding van sypaadjies het in verskeie lande weens die Covid-19-pandemie gebeur. Met minder motors op straat is meer ruimte vir voetgangers geskep.

Postma sê sypaadjies is veral ’n probleem in die sakekern, met talle eetplekke wat sypaadjies as bykomende sitplek gebruik. Dit maak dit nie net moeilik vir voetgangers nie, maar ook vir enigeen wat in ’n rolstoel is.

“Motors het nie koopkrag nie, dus is dit goed vir ondernemings om meer voete in die sakekern te hê.”

Aanpassings aan verkeerskruisings is ook een van Postma se voorstelle.

Hy stel voor dat trems teruggebring word om vervoer in ’n stad of dorp te vergemaklik, terwyl voertuie en motors op sentrale punte buite die sakekern gelaat word.

In Australië, waar Postma grootgeword het, is trems terug in die stede danksy vennootskappe tussen die staat en private ondernemings.

Postma meen ’n netwerk trems kan uiteindelik Stellenbosch aan buurdorpe soos Somerset-Wes en Paarl verbind, wat die behoefte aan motors sal verminder.

Saam met al hierdie voorstelle meen Postma dit is belangrik om ’n aktiewe burgerskap te hê wat bereid is om betrokke te raak met die staat, sakelui en ontwikkelaars ten bate van hul dorp.

“Verandering is moontlik en dit begin wanneer daar samewerking is,” meen Postma.

Benewens Postma se praatjie het die Stellenbosch-belangegroep ook hul onlangse werk met lede gedeel. Die groep het die afgelope jaar baie kommentaar en talle insae oor plaaslike ontwikkeling gelewer.

Dit sluit in voorstelle om plaaslike geboue sowel as die dorp se erfenis te bewaar. Die groep se werk is egter ’n groot uitgawe en die voortbestaan van die belangegroep sal beteken ’n aanvullende bron van inkomste is nodig.

  • Besoek Stellenbosch Belangegroep se Facebook-blad vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.