Met die Blitsbokke se voorbereiding vir die 2025-’26-HSBC-7’s-reeks tans in volle swang in Stellenbosch, kan die bydrae van David Brits en Donovan Don tot die Boland Kavaliers se vertoning in die Curriebekerkompetisie nie gering geskat word nie.
Eikestadnuus het by die bekendstelling vir die Kaapstad-afdeling van die reeks in die Neelsie met Brits gesels.
“Die Kavaliers se opmars in die Curriebekerkompetisie is nie ‘n Don-en-Brits-storie nie; dit was ‘n spanpoging. Ons het maar net ‘n bydrae tot die opmars gemaak.
“Vir my persoonlik was dit ‘n nuwe ervaring om weer 15’s te kan speel en daarvoor sê ek vir Philip Snyman [afrigter] baie dankie. Hy het almal wat ná die 7’s-reeks 15’s wou speel, die kans gegee en dis hoe ek en Don by die Kavaliers beland het,” sê Brits.

Dié oud-Matie en die Kavaliers-afrigter, Hawies Fourie, kom ‘n lang pad saam. Fourie was sy afrigter by Maties voordat hy Noorde toe geskuif het.
“Die meeste van die Blitsbokke het verkies om vir WP in die Curriebekerkompetisie te speel, maar Fourie het my gevra om die Kavaliers te oorweeg, aangesien Don uit die Boland kom. Ek het die kans aangegryp.
“Wat ek as Kavalier onder- vind het, was die passie en die omgee van die ondersteuners vir die span en jou as speler as hulle jou op straat raakloop. ‘n Geselsie word aangeknoop en jy word sommer net daar gesê wanneer jy nou ‘n bietjie drooggemaak het en hoe jy nou in die volgende wedstryd daai fout moet regmaak.
” ‘n Foto met elkeen is gevra en dis dan wanneer daardie ‘kenners’ jou nou vertel van die Kavaliers se geskiedenis,” skerts Brits.
Oor sy spanmaats kan hy nie uitgepraat raak nie. “Die meeste van die spelers het nog ‘n 9-tot-5-werk en kom dan agterna oefen . . .
“Hulle sit alles in by die oefening . . . Die Blitsbokke is bekend vir hul broederskap of ‘die familie’, maar ek het nou vanjaar ‘n ander broederskap en familie leer ken en dit het my in my menswees laat groei,” sê hy.
Oor sy samespel met Don kon die publiek ook nie uitgepraat raak nie. “Ek dink ek en Don het goed by die speelpatroon van Fourie ingeskakel – ons kon ons 7’s-vaardighede tot die span se voordeel gebruik. Ek het nie omgegee om al die lakwerk in die middelveld te doen nie; ek het geweet Don gaan afrond as hy die bal in die hande kry.
“James Stedder se skopvoet het die telbord laat rol, maar ons agterspelers kon niks doen om punte aan te teken as dit nie vir die voorspelers was nie. Die pak was ysters en het nie vir groot name teruggestaan nie.”
Albei se fokus is nou om die Blitsbokspan te haal vir die eerste ronde van die HSBC-7’s-reeks in Doebai.
Kaartjies vir die Kaapse afdeling van die 7’s-reeks is reeds te koop en die verdedigende Blitsbokke sal hul tuisskare trots wil maak.






You must be logged in to post a comment.