‘n Vrou (60) en haar broer (40) is Saterdag (2 Augustus) in die vroeë oggendure met ernstige beserings gehospitaliseer nadat drie gewapende rowers by ‘n gastehuis naby Uitkykstraat in Franschhoek ingebreek, die twee aangerand en van verskeie besittings beroof het.
Drie rowers het vermoedelik kort ná middernag toegang tot die gastehuis verkry en glo dadelik die sibbe aangeval.
Die aanvallers was na bewering met hamers en pangas gewapen en hul gesigte met maskers bedek, het kol. Frederick Rossouw, bevelvoerder van die Franschhoek-polisiekantoor, gesê.
Die rowers het na bewering die sibbe in ‘n vertrek toegesluit voordat hulle met verskeie artikels van die toneel gevlug het.
Die verdagtes is nog op vrye voet, en ‘n saak van huisroof word ondersoek, het Rossouw bevestig.
Hy sê die twee se verklarings moet nog deur die polisie geneem word.
Volgens Kurt Maske, ‘n paramedikus van ER24, is hy omstreeks 01:10 oor die voorval verwittig.
“Met ons aankoms is ‘n man en vrou met ernstige beserings op die toneel aangetref. Die man se beserings was aanvanklik kritiek, maar ons kon hom op die toneel stabiliseer. Albei is na ‘n hospitaal in die omgewing vir verdere behandeling vervoer,” sê Maske.
Hy het bevestig dat die Franschhoek-polisie, die Franschhoek First Responders en private sekuriteit op die toneel was.
Netwerk24 het Saterdag berig dat die twee glo broer en suster is.
Volgens Netwerk24 moes hulle ná die aanval en huisroof glo byna 1 km sukkel-sukkel loop om hulp te soek.
• Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die Stopmisdaad-nommer, 08600 10111, te skakel of die MySAPS-app te gebruik. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.


