Broers se somme tel op na goud

Salmo Cilliers (graad 10) en Tian Cilliers (graad 12) van Hoërskool Stellenbosch het goue sertifikate by die Universiteit van Kaapstad se wiskunde-olimpiade gekry.


Om so goed te presteer in ’n vak, moet jy ’n liefde daarvoor hê – waar kom jul liefde vir/belangstelling in wiskunde vandaan?

Tian: Ek dink my belangstelling kom meestal van my ma af wat ons al van jongs af blootgestel het aan wiskunde. Ek geniet al wiskunde so lank as wat ek kan onthou en ek dink as ’n mens iets op so jong ouderdom leer geniet, motiveer dit jou om jou kennis oor dit te probeer uitbrei sodat dit jou aanhou interesseer.

Salmo: Ek het van ’n jong ouderdom af my liefde en talent daarvoor ontdek.

Hoeveel ekstra werk/ure moet jy insit om so goed te kan presteer?


Tian: Ek sien nie die ure wat ek in wiskunde insit as “ekstra werk” nie aangesien ek wiskunde geniet maak dit dat ek elke nou en dan daaraan kan werk en iets nuuts daaroor leer sonder om doelbewus moeite te doen.

Salmo: Om eerlik te wees, niks nie.

Is daar ’n verskil in die wiskunde­kompetisies en die “gewone” wiskunde in die klas?

Tian: Ja. Wiskunde-olimpiades is baie meer gefokus om wiskunde te verstaan en die beginsels wat mens in die klas leer regtig kan toepas op probleme wat nie noodwendig so voorspelbaar as klaswiskunde is nie. ’n Mens moet dus nie net die formules ken nie, maar hoe om by hulle uit te kom, hoe om hulle te gebruik, en waarom hulle werk, op ’n baie meer basiese vlak.

Salmo: Ja, wiskundekompetisies is probleemoplossing met behulp van gevorderde wiskunde, maar klaswiskunde is eenvoudige somme.

En hoe help die kompetisies jou om beter op skool in wiskunde te vaar?

Tian: Omdat hierdie kompetisies so ’n basiese begrip van wiskunde kort, help dit ook om nuwe begrippe in wiskunde op skool te verstaan op ’n basiese vlak. Die somme is ook baie meer “uit die boks” en prakties, wat mens regtig anders laat dink oor wiskunde.

Salmo: Dit help my om beter buite die boks te dink.

Daar het 7 000 leerders aan hierdie olimpiade deelgeneem en dié broers het elkeen onder die top-10 in hul graadgroep geëindig. Eikestadnuus het met hulle oor hul liefde vir wiskunde gesels.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.