Die tydelike herstelwerk aan die brug het goed gevorder en is vinnig uitgevoer – dít volgens Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, nadat reënweer verlede Dinsdag (8 April) verskeie paaie oorstroom en ‘n gedeelte van die brug op die R304-pad, oorkant Khayamandi se ingang, weggespoel het.
“Die eerste voorval het op Dinsdagoggend plaasgevind toe stormwatererosie die vulwal aan die kant van die brug beskadig het. Hierdie skade is spoedig herstel en die pad is reeds Woensdag in die vroeë oggendure weer oopgestel. ‘n Tweede voorval is Woensdagnamiddag ontdek – dit blyk dat van die vulmateriaal direk onder die brug gesteel is. Die pad moes gevolglik Woensdagnamiddag gesluit word. Herstelwerk is onmiddellik begin en die pad is weer Donderdag vroegoggend oopgestel,” verduidelik Grobbelaar.
Blykbaar is sand van onder die brug gereeld “gemyn”. Volgens Khayamandi-inwoners word dié sand verkoop aan mense wat bouwerk doen.
Dit het die burg verswak en Sondag is die pad weer vir herstelwerk gesluit.
“Die munisipaliteit is besig om strukturele assesserings van die brug te reël. Op grond hiervan sal permanente herstelwerk beplan word. ‘n Gekwalifiseerde kontrakteur sal dan aangestel word om die herstelwerk uit te voer. Die permanente herstelwerk sal enkelbaan-sluitings vereis, wat buite spitstye geskeduleer sal word. Ons doen ‘n ernstige beroep op die publiek om saam met ons te werk om belangrike munisipale infrastruktuur te beskerm.
“Die diefstal van strukturele materiale is uiters nadelig vir ons veiligheid en mobiliteit. Wetstoepassingsdienste hou ook ‘n oog op enige onwettige aktiwiteite onder en rondom die brug,” sê Grobbelaar.

You must be logged in to post a comment.