Zola Budd 40 jaar ná sy rekord verbeter vereer

Die prestasie van ’n skraal 17-jarige kaalvoetatleet op 5 Januarie 1984 het die wêreld behoorlik verstom. Op ’n winderige Coetzenburg-stadion in Stellenbosch, voor ’n skare van byna 12 000 mense, het Zola Budd 40 jaar gelede in ’n tyd van 15:01.09 ’n


Die prestasie van ’n skraal 17-jarige kaalvoetatleet op 5 Januarie 1984 het die wêreld behoorlik verstom. Op ’n winderige Coetzenburg-stadion in Stellenbosch, voor ’n skare van byna 12 000 mense, het Zola Budd 40 jaar gelede in ’n tyd van 15:01.09 ’n wêreldrekord in die 5 000 m gehardloop.

Dit was toe slegs haar vierde 5 000 m wat sy gehardloop het, en sy het die vorige rekord van Mary Decker van die VSA met 6.59 sekondes verbeter.

Die rekord is egter nie erken nie, weens Suid-Afrika se destydse skorsing uit die IAAF in 1976.

Halfpad deur die wedloop het Budd reeds die hele veld verbygesteek. Sy het konstante rondtetye van 72 sekondes gehardloop. Sy het teen die einde vinniger rondtetye gehardloop as aan die begin.

Budd, wat op 26 Mei 1966 in Bloemfontein gebore is, het gesê: “Coetzenburg is my gunstelingbaan. Dit is wonderlik om daar te hardloop.”

Toe sy gevra is oor die sterk suidoostewind, het sy gesê: “Ek het nie gedink nie, net gehardloop.”

Sy het in Augustus 1985 wel die 5 000 m-wêreldrekordtyd agter haar naam geskryf – met ’n tyd van 14:48.07, 10 sekondes beter as die rekord toe sy onder die Engelse vlag deelgeneem het. In Julie 1984 het Budd in die 2 000 m tydens ’n wedloop by Crystal Palace in Londen ’n wêreldrekord met ’n tyd van 5:33.15 opgestel.

Die 1984 Olimpiese Spele in Los Angeles, VSA, sal altyd onthou word vir die 3 000 m wedloop tussen Budd en Decker.

Sy het in 1985 in Lissabon, Portugal en 1986 in Neuchatel, Switserland ook wêreldlandlooptitels verower, en sy het die Britse en Statebondrekords in die 1 500 m, die myl, 3 000 m en 5 000 m oortref.

Budd het SA in die 3 000 m by die Olimpiese Spele van 1992 in Barcelona, Spanje verteenwoordig.

Die Universiteit Stellenbosch se alumni-kantoor het onlangs sy derde episode van “Matie Legendes en Pioniers” gemaak. Dié episode handel oor die Uurbyeenkomste op Coetzenberg, en Bun Booyens gesels met Budd oor haar atletiekloopbaan.

Die Zola-legende bly voortleef in die wit minibustaxi’s met die bynaam “Zola Budd” vir hul spoed. Die ontslape Brenda Fassie ook het in 1980 ’n treffer met die liedjie “Zola Budd” gehad.

“Die jaarlikse Dagbreek-straatmyl wat tydens die US Woordfees gehou word, wil graag nuwe talent ontgin, maar dit is belangrik om die atletieklegendes van weleer te onthou en bloot te stel aan ’n nuwe generasie,” sê die organiseerder Francois Fouche.

“Budd word vanjaar tydens die geleentheid op Woensdag 9 Oktober vereer.”

Sy is steeds die Suid Afrikaanse-rekordhouer in die myl met ’n tyd van 4:23.38, wat sy op 4 Maart 1991 opgestel het. Budd spog ook met ’n beste myl-tyd van 4:17.57 wat sy op 21 Augustus 1985 in Zürich, Switserland opgestel het – dit was vir 38 jaar die Britse myl-rekord.

“Die Dagbreek-straatmyl word sedert 2011 aangebied te ere van De Villiers Lamprecht wat die eerste SA atleet was om ’n droommyl te hardloop,” sê Fouche.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.