Die uitvoerende burgemeester van die Stellenbosch-munisipaliteit, adv. Gesie van Deventer, het Maandag (5 Junie) die skommeling van die Burgemeesterskomitee aangekondig.
Van Deventer het in ’n verklaring gesê dit verskaf haar groot plesier om ná ’n uitgebreide konsultasieproses die lede van haar nuwe Burgemeesterskomitee aan te kondig. “Ek is vol vertroue dat die Mayco wat vandag aangekondig is dinge sal lewer en gedoen sal kry.”
Volgens haar is veranderings aan die komitee aangebring om te verseker dat raadslede ’n gelyke geleentheid het om ervaring op te doen as hoof van verskeie portefeuljes.
“Sommige van die veranderings behels dat huidige komiteelede na ander portefeuljes verskuif word, terwyl ons ook drie nuwe raadslede in die komitee verwelkom.”
Die burgemeesterskomitee bestaan ??uit raadslede wat ingevolge artikel 60 (1) van die munisipale strukturewet deur die uitvoerende burgemeester aangestel is. “Hierdie span is gekies vir hul kombinasie van ervaring, nuwe idees, vaardighede en toewyding om ons inwoners te dien. Die mengsel van ervaring met nuwe komiteelede het gelei tot ’n diverse stel vaardigheid en baie talente wat tot voordeel van al ons gemeenskappe sal wees,” voeg Van Deventer by.
Alle lede van die komitee sal volgens Van Deventer leefstyloudits ondergaan en prestasie-ooreenkomste onderteken.
Die nuwe komitee is soos volg:
• Finansiële Dienste: Onderburgemeester Jeremy Fasser
• Korporatiewe dienste: rdl Lwando Nkamisa
• Beskermingsdienste: rdl Reginald Pheiffer
• Menslike Nedersettings: rdl Rozette du Toit
• Infrastruktuur: rdl Peter Johnson
• Beplanning, LED en Toerisme: rdl Carli van Wyk
• Sport, Jeug en Kultuur: rdl JC Anthony
• Landelike Bestuur: rdl Joseph Joon
• Parke, Oop ruimtes en Omgewing: rdl James Williams
• Gemeenskapsdienste: rdl Xolile Kalipa
“Ek wil hierdie raadslede geluk wens en hulle sterkte toewens terwyl ons voortgaan met die werk om Stellenbosch as een van die bes bestuurde munisipaliteite in die land te posisioneer.”