Burgemeester reik uit na sakevroue

Uitvoerende burgemeester, Gesie van Deventer, het verlede met verskeie sakevroue en entrepreneurs van Cloetesville ontmoet om onder meer te hoor wat hul uitdagings en ambisies is.


cloetesville

Uitvoerende burgemeester, Gesie van Deventer het verlede met verskeie sakevroue en entrepreneurs van Cloetesville ontmoet.

Uitvoerende burgemeester, Gesie van Deventer, het verlede met verskeie sakevroue en entrepreneurs van Cloetesville ontmoet om onder meer te hoor wat hul uitdagings en ambisies is.

Luidens ’n verklaring deur Van Deventer, is die groep vroue inspirerende mense wat probeer om hul eie lewens sowel as die van gemeenskapslede te verbeter. 

“Die realiteit is dat dit vir vroue steeds moeiliker is om hul eie besighede te begin en te bedryf. Daarom is die geleentheid geskep om hierdie eerste groep vroue bymekaar te bring en te praat oor watter moontlike ondersteuning die munisipaliteit aan hulle kan bied,” sê Van Deventer in die verklaring.

Volgens haar probeer die munisipaliteit geleenthede aan plaaslike besigheidseienaars gee om die noodsaaklike vaardighede te bekom. 

“Bestuurderslisensies en rekenaarvaardighede is vandag krities belangrik vir enige besigheid, ongeag hoe klein. Tog is dit vaardighede waaroor nie almal beskik nie. As plaaslike regering wil ons onsself toespits om ons plaaslike sakevroue te bemagtig deur geleenthede te bied waar hulle vaardighede soos hierdie kan aanleer deur middel van beurse en ander programme wat die munisipaliteit beskikbaar maak aan inwoners.”

Volgens navorsing wat onderneem is deur die Verenigde Nasies, baat ekonomiese groei by die bemagtiging van vroue in besigheid. Dit help om gelykheid in die samelewing te bevorder en dit bemagtig en bevorder veral die belange van armer gebiede. 

Zainab Ras het beklemtoon dat dit ’n uiters belangrike eerste stap was vir die vroue van die area en veral vir Cloetesville omdat daar ’n behoefte is om positiewe geleenthede te skep. 

Elanie Plaatjies, wat haar eie spysenieringbesigheid besit, is baie opgewonde om saam met die munisipaliteit en ander vroue te werk om die Cloetesville gemeenskap te bevorder. 

“Ek is uiters beïndruk met die vroue van Cloetesville. Hulle harte strek verder as net hul eie belange. Elkeen wil graag werk om ’n verskil te maak in hul gemeenskap. Hierdie is maar net die eerste geleentheid en ons beplan om met besigheidsvroue van regoor ons breër gemeenskap te vergader en hulle te bemagtig ten bate van ons hele gemeenskap,” het Van Deventer gesê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.