Twee buurtwagte in Franschhoek het groot planne om hul dorp veilig te hou en het as blyk van waardering vir die vrywillige werk wat buurtwaglede doen op Maandag 6 Junie kospakkies aan lede uitgedeel.
“Dit is nie baie nie, maar dit is om dankie te sê vir hul moeite en opofferings,” het Leaticia Alexander-Juries van die Groendal-buurtwag gesê.
Die inisiatief is deur die Keerom- en Groendal-buurtwagte van stapel gestuur.
Die buurtwag het onlangs ’n skeepsvraghouer van die munisipaliteit ontvang wat hulle beoog om in ’n kontrolekamer vir die buurtwag om te skep.
“Dit is nou nie soos die een in Stellenbosch nie, maar die plan is om onder te begin en dit met daardie een te verbind. Ons wil graag die kontrolekamer toerus sodat kommunikasie tussen lede wat in die strate beweeg en die mense in die kontrolekamer makliker en meer doeltreffend kan geskied,” verduidelik Alexander-Juries.
Vir nou gebruik die lede die skeepshouer as ’n bymekaarkomplek en vir vergaderings.
Alexander-Juries sê hulle wil die skeepshouer opknap en verf.
“Ons het finansiering nodig om verf aan te koop of selfs skenkings vir verf sal ook welkom wees.”
Die buurtwag sê hulle wil graag hê ondernemings moet in hulle belê.
“Ons wil hê sakeondernemings moet ons ondersteun en van ons gebruik maak. Ons hou die strate veilig en die skole gebruik ons ook om te help met veiligheid by gesellighede. Ons patrolleer die strate en rondom die plaaslike ondernemings,” voeg Alexander-Juries by.
“Ons wil graag vir raadslede Reginald Pheiffer en Minnie Petersen baie dankie sê vir hul volgehoue ondersteuning.”