Terwyl daar gewag word om te hoor of the Stellenbosch-belangegroep se hersieningsaansoek vir die Botmaskop-ontwikkeling se omgewingsgoedkeuring oorweeg word, het die Cape Independence Party (CapeXit) sy teenkanting teen die ontwikkeling geopper deur strafregtelike klagtes teen die Stellenbosch-munisipaliteit in te dien.
Leon Lourens, hoof van die omgewingsportefeuljekomitee van die Capexit-party, en die Kaapstadse raadslid Karl Bodin, het Donderdag (16 Oktober) ‘n amptelik klagte teen die plaaslike munisipaliteit en munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, by die Stellenbosch-polisie ingedien. Capexit, wat nie in die Stellenbosch- munisipale raad verteenwoordig word nie, meen Mettler en die Stellenbosch-munisipaliteit het verskeie wette oortree deur onder meer goedkeuring vir die ontwikkeling te gee en om munisipale grond beskikbaar te stel vir die ontwikkeling.
Konstruksiewerk aan die luukse landgoed is vroeër vanjaar gestop nadat die Stellenbosch-belangegroep ‘n dringende aansoek in die Kaapse hooggeregshof gebring het. In hierdie aansoek betwis die belangegroep die gewysigde omgewingsmagtiging wat in Februarie 2021 deur die provinsiale departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, toegestaan is. Die groep Stellenbossers meen die huidige projek, van Botmaskop Fynbos Estate, is nie geldig nie gesien die aanvanklike omgewingsmagtiging wat in 2003 reeds verstryk het en die daarop volgende goedkeurings dus ongeldig is.

Die belangegroep het hom daarom na die hof gewend in die hoop om werk aan die ontwikkeling te stop sodat die departement ‘n volledige hersiening van die omgewingsmagtiging wat in 2021 toegestaan het hersien.
Regter Melanie Holderness het in April ‘n tussentydse interdik toegestaan en die betrokke partye “verbied om enige konstruksie, bouwerk of ander werk by Botmaskop met betrekking tot die ontwikkeling van ‘n residensiële landgoed te onderneem of voort te gaan”.
Ten tye van Holderness se uitspraak het konstruksiewerk vir munisipale dienste en ander infrastruktuur reeds plaasgevind. Volgens die hofdokumente beskou die ontwikkelaars die grond vir die 73-eenheid-landgoed as ten volle ontwikkel.
Volgens Capexit het die party bewyse van ‘n “omgewingsmisdaad” wat vermoedelik in die Botmaskop- beskermde gebied gepleeg is.
“Ons het gevind die Stellenbosch-munisipaliteit het na bewering ‘n ontwikkelaar op Botmaskop toegelaat om tot munisipale grond toe te tree. Munisipale grond wat staatsgrond is. Deur dit te doen, het die ontwikkelaar na bewering magtiging ontvang om die munisipale grond te ontwikkel,” verduidelik Lourens.
Hy voer aan die paaie, heining en water-infrastruktuur wat op erf 187020 en die aangrensende munisipale grond, erwe 333 en 3363, aangebring is, is vermoedelik onwettig aangesien dit deel van die Kaapse Wynland Biosfeerreservaat en ‘n verklaarde bergopvangsgebied is.
“Hierdie aktiwiteite, wat na bewering sonder die vereiste omgewingsimpakstudies of goedkeurings uitgevoer is, het inbreuk gemaak op brose ekosisteme wat as kritieke biodiversiteitsgebiede 1 en 2 geklassifiseer is. Fotografiese bewyse toon die beweerde uitwissing van bogrond en habitatte, wat bedreigings vir bedreigde spesies soos die kwesbare Moraea villosa (Pou-Moraea), bedreigde Aristea lugens, bedreigde Geissorhiza erosa en die kwesbare Moraea versicolor vererger,” lui die party se verklaring. Lourens het by navraag gesê die beweerde oortredings is ernstig genoeg dat die partye dit goed gedink het om ‘n strafregtelike klagte in te dien. “Die munisipaliteit is getaak om die omgewing te bestuur, veral daar waar bedreigde spesies voorkom. Daarom moet ondersoek ingestel word om te bepaal hoekom hulle na bewering dan toegelaat het dat die ontwikkelaars om die grond te ontwikkel. Dit lyk asof die nodige huiswerk nie deur die munisipaliteit gedoen is nie,” sê Lourens.
Die klagtes wat CapeXit teen Mettler gebring het, is ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur 107 van 1998; die Nasionale Omgewingsbestuur: Wet op Biodiversiteit (NEMBA), 2004; die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne; en die Wet op Omgewingsbewaring, 1989.
By navraag het die Stellenbosch-munisipaliteit gesê die munisipaliteit is bewus van CapExit se verklaring. “Soos hulle self noem is dit aantygings. Die munisipaliteit beskou dit eenvoudig as ‘n manier om politieke punte aan te teken,” het Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder van die munisipaliteit, gesê. Grobbelaar het bygevoeg aangesien die saak in die hof is, sal geen verdere kommentaar verskaf word nie.



You must be logged in to post a comment.