Lactalis Suid-Afrika se 18- maande-beleë-cheddar, wat uitsluitlik vir Woolworths vervaardig word, is by die 189 ste Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings, wat Vrydag 25 Maart op Cavalli-landgoed buite Stellenbosch aangebied is, as die Suiwelproduk van die Jaar gekroon.
Dié cheddar, ’n volronde kaas met ’n neutagtige en effens pikante geur, was een van 920 suiwelprodukte van 68 vervaardigers wat meegeding het om die aandag van ’n span van 60 beoordelaars. Altesaam 26 produkte uit die groot getal inskrywings is met die Qualité-merk van gehalte vereer terwyl 105 as SA kampioene aangewys is.
“Vir ’n produk om gekies te word as Produk van die Jaar in ’n kompetisie van hierdie omvang, is die droom van elke suiwelvervaardiger,” sê die suiwelkenner en hoofbeoordelaar Alan Fourie. “Woolworths se 18-maande Mature Cheddar is ’n uitsonderlike produk wat hierdie eerbewys verdien.”
Alban Damour, hoofbestuurder: Lactalis Suider-Afrika, sê sy kaasspan is verheug daaroor dat die gehalte van hul produkte vir die derde agtereenvolgende jaar erken word. “Ons kaasspan word weer eens geprys vir sy kundigheid en passie, asook vir sy produkte wat gelykstaande is aan die beste oor die wêreld heen en gunstelinge is onder Suid-Afrikaanse verbruikers.
“Ons is trots op ons jare lange sakevennootskap met Woolworths, ’n besigheid wat gehalte netsoveel waardeer as ons. Lactalis SA waardeer ook die werk wat Agri-Expo doen om die plaaslike suiwelbedryf te erken en te vier.”
Bestes aangewys
Die SA Suiwelkampioenskap word reeds sedert 1834 met groot sukses deur Agri-Expo aangebied. Volgens Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, is dit ’n besondere voorreg om die kampioenskap vir die 189 ste jaar aan te bied aangesien Agri-Expo, die oudste landbougenootskap in Suid-Afrika, ook 190 jaar van erfenis en 25 jaar van innovasie vier.
“Innovasie kenmerk inderdaad hierdie gesogte vlagskipprojek oor baie jare,” sê Ehlers. “Ons het in 2001 die Qualité-merk geskep as die enigste merk van uitnemendheid vir Suid-Afrikaanse suiwelprodukte. In 2020 het ons die heel eerste virtuele toekenningsgeleentheid in die Suid-Afrikaanse landbousektor aangebied. Verder is ons die enigste organisasie in die wêreld wat ’n groot suiwelkampioenskap deurlopend oor die afgelope drie jaar kon aanbied – wat die weg gebaan het vir die suksesvolle nuwe konsep van ’n hibriede SA Suiweltoekennings, wat vir die tweede jaar by Cavalli-landgoed sowel as op ons webwerf plaasvind.”
Die groot aantal inskrywings en die uitsonderlike gehalte van produkte wat vanjaar ingeskryf is, is volgens Ehlers redes om optimisties te wees oor die toekoms van die suiwelbedryf in Suid-Afrika: “Vanjaar se uitslae getuig van ’n innoverende bedryf en gesonde kompetisie tussen groter vervaardigers en kleiner entrepreneurs, met ’n totaal van vyf Qualité’s wat aan Lactalis South Africa toegeken is, drie aan Fairview, twee elk aan Clover SA, De Pekelaar Boerenkaas, Belnori Boutique Cheesery, Klein River Cheese en Rhodes Food Group, en ’n goeie verdeling tussen die ander wenners.”
Agri-Expo bedank graag die platinum-vennoot Synercore asook al die ander vennote van die SA Suiwelkampioenskap vir hul toewyding tot die ontwikkeling van die suiwelbedryf, naamlik Chr.Hansen, AECI Food & Beverage, die Wes-Kaapse Departement van Landbou, Woolworths, IMCD SA, Condio, Hollard, Orchem, Mane, Polyoak Packaging en The Dairy Mail.
Vir die volledige uitslae van die SA Suiwelkampioenskap, besoek www.cheesesa.co.za.