Dink aan Suid-Afrika, en ’n safari kom in die gedagtes. Dink aan Suid-Afrikaanse wyn, en chenin blanc kom staan dikwels voorop.
Nou kan jy hierdie twee nasionale vreugdes kombineer in ’n bergfiets- chenin blanc-safari in die Kaapse Wynland, en dit kan dalk net tot die beste herfs wat jy nog beleef het, lei.
Jy kan, op jou eie tyd, aan die Chenin-safari, wat van Saterdag 6 Mei tot Saterdag 10 Junie duur (terloops ook toevallig die Internasionale Drink-Chenindag) deelneem. Bergfietsryers en enige ander lede van die gemeenskap kan hul eie roetes saamstel en ry soos dit hulle pas. ’n Voorvereiste is uiteraard dat hulle ingevolge die Drankwet reeds die wettige ouderdom moes bereik het. Op hul roetes gedurende die ses weke dat die Chenin-safari geld, kan hulle by enige van die 30 deelnemende wynplase in die Kaapse wynland aanry. Daar kan hulle aan ’n wynproe deelneem, maar moet as bewys van hul besoek ’n foto laai om te wys hulle het wel daardie wynmakery besoek.
“Dis ’n wen-wen-storie, hoe jy ook al daarna kyk,” sê Christina Harvett, bestuurder van die Chenin blanc-vereniging, wat die Chenin-safari reël. “Jy kan die kans staan om een van ’n aantal groot pryse te wen of jy kan, oor ’n tydperk van ses weke, sommer net ’n uiters genotvolle tydjie geniet terwyl jy ook jou fiksheid verhoog. Hoe dit ook al sy – as jy van avontuur hou en goeie wyn geniet, kan jy nie verloor nie.
“Besoek ’n sestal Chenin-safari-stilhouplekke, laai jou foto’s van elk op die stelsel en wen daarmee ’n begeerde #DrinkChenin-fietsryhemp. Dit is ook die rede waarom dit noodsaaklik is om vir die Chenin-safari te registreer en jou hempgrootte te verskaf,” sê sy.
“Besoek meer as ses chenin-haltes en jy staan ’n kans om ’n prys van ’n naweek vir twee in ’n luukse boetiek-oord weg van die stadsgewoel te wen, of uitsoek-geskenkpakke vir kos- en wynliefhebbers, of begeleide togte net vir vroue. Naas hierdie pryse is daar die opwinding om van naderby van die mees skilderagtige wyngebiede ter wêreld te ervaar en ook die kans om van die beste nuwe en verouderde chenin-wyne eerstehands te leer ken.
“Deelnemers sal die kans kry om komplekse wyne uit ou wingerde te proe, sowel as ligte, verfrissende chenins; gehoute, ongehoute, stil- en vonkelwyne; ander wat volkome droog, ryk en diep, naasdroog of soet is. Die stilistiese verskeidenheid wat baie van die wynmakerye aanbied, is op sigself ’n safari!”
Die deelnemende wynmakerye is versprei oor ’n groot deel van die Kaapse Wynland – van die Weskus tot Darling tot die Swartland, Bottelary, Stellenbosch, Helderberg, Simondium, die Paarl, Franschhoek, Worcester, Wellington, Rawsonville, Tulbagh en Villiersdorp, asook die Breedekloof en die Du Toitskloof-berge.
Jy kan die wynmakerye onafhanklik besoek, en jou roetes en tydtafel só beplan dat dit saamval met die tye wanneer die wynmakerye oop is. Of jy kan jou by die Chenin Crew aansluit en só aan vooraf beplande groepsgeleenthede deelneem. Dit sluit in die Breedekloof Gravel & Grape (6 Mei), Darling Hills (20 Mei) en die Bottelary Hills- Renosterveld-bewaringsgebied (3 Junie), met die #DrinkChenin, wat ’n pretrit vir die hele gesin insluit (10 Junie) as ’n hoogtepunt. Fietsryers sal ’n afslag ontvang as hulle vir enige van hierdie vier groepsgeleenthede inskryf.
By die laaste van die vier geleenthede – die jaarlikse #DrinkChenin, wat vanjaar op Backsberg Family Wines plaasvind – sal die chenins van die top-20 produsente uitgestal word. Benewens ’n fietswedren sal musiek in lewende lywe opgedis word, kos sal te koop wees en aktiwiteite om die kinders besig te hou, sal beskikbaar wees.
“Die doel van die ses weke safari is verantwoordelike genot,” sê Christina. “Ons wil nie hê deelnemers moet hulself ooreis nie, hou by die wettige alkohol-perk en die volle ses weke gebruik om by die plekke en roetes van hul keuse uit te kom. En jy hoef nie noodwendig ’n fietsryer te wees om deel te neem nie. As jy wil ry na waar jy wil wees, is dit ook reg – mits jy vir deelname registreer!”
Mense wat vir die Chenin-safari en een of meer van die groepsgeleenthede wil registreer of meer besonderhede oor die deelnemende wynmakerye en hul proe-opsies en -pryse verlang, of wil weet waar hulle hul foto’s moet laai of besonderhede oor deelname of pryse wil hê, moet https://chenin.co.za/cheninsafari besoek.