“Liefde. Beweeg in liefde en jy kan nie verkeerd gaan nie.”
Dít is Christopher du Toit (38) se raad aan enigiemand wat in die maatskaplike sektor wil werk. Du Toit het die afgelope drie jaar met mense met gestremdhede in die Eikestad gewerk en hoewel dié Paarliet nou aanbeweeg, sê hy die dorp en sy mense het in sy hart gekruip.
“Dit het ’n paar keer gebeur wanneer ek verby Klapmuts huis toe ry wat ek iemand ‘n geleentheid gegee het. Die eerste keer het ek ’n man van Klapmuts opgelaai. Ons het nie veel gepraat nie – net na musiek geluister – maar toe hy uitklim, vra hy of hy vir my kan bid.
Dít is hoe Stellenbosch se mense is. Dit is hoe ek die dorp sal onthou,” meen hy.
Du Toit het by ’n plaaslike sentrum wat met mense met gestremdhede werk, eko-terapie toegepas. Hy het 10 kliënte per sessie gehad en saam het hulle tuingemaak en selfs saam met hulle plante gekweek om by die sentrum se markdae en markies te verkoop.
“Om met mense met intellektuele agterstande te werk, soos ek gedoen het, is verfrissend. Reël nommer een is dat jy werklik ’n liefde vir die saak moet hê, want hulle skroom nie om iets te sê soos dit is nie.
“Ons wat neurotipies is, leer om gevoelens en gedagtes te filtreer, huiwer om spontaan te wees of ons werklike gevoelens te deel – nie diegene met wie ek gewerk het nie. Hulle het my só baie geleer, want so liefdevol soos hulle is, beweeg hulle ook gou aan. Aanvaarding is vinnig, maar so ook hul vermoë om te let go.”
Benewens sy werk met gestremdes het Du Toit ook ’n passie vir musiek. Deur sy werk het hy ook geleer dat individue se gawes hulle kan help om met ander ‘n band te bou. “Nou dink jy die mense is grootmense met die intelligensie van ’n kind, maar dit is verbasend om te sien wat hulle opgewonde maak.”
Du Toit speel verskeie instrumente en danksy sy liefde vir klassieke musiek het hy gereeld vir sy kliënte bekende liedjies gespeel.
Sy tyd by die sentrum het Du Toit verskeie lesse geleer, maar hy sê een wat hom altyd sal bybly, is die belangrikheid van inklusiwiteit. “Skep ruimte vir ander, hoe dit ook al mag lyk. Ek dink indien meer mense na mekaar uitreik, sal die eensaamheid en depressie waaronder so baie mense gebuk gaan, uitgewis word.
“Hoe wonderlik sou dit nie wees vir beide ’n hoofstroomkind en kindjie met ’n gestremdheid om vroeg reeds maatjies te maak nie? Dit is goed vir die maatjie met die gestremdheid, maar ook vir die hoofstroommaatjie, wat vroeg leer – om anders te wees is nie iets om voor te lag of te spot nie,” moedig hy aan.
Du Toit hoop nou om sy praktiese vaardighede in sy eie gemeenskap voort te sit, maar hy bieg hy sal gereeld kom kuier wanneer hy die eikebome mis.