Bertina Engelbrecht sal van 1 September 2023 tot Augustus 2027 in die Universiteit Stellenbosch-raad dien.


Die Universiteit Stellenbosch het Woensdagmiddag (21 Junie) aangekondig die uitvoerende hoof van die Clicks-groep, Bertina Engelbrecht, is as lid van die US-raad benoem.

Engelbrecht sal van 1 September 2023 tot Augustus 2027 in die raad dien.

Dr. Nicky Newton-King, voorsitter van die US-raad, sê dit “is ’n voorreg dat iemand van Bertina se kaliber by die Raad van die Universiteit Stellenbosch aansluit. Ons sien uit na haar kundige bydraes oor kwessies wat onder meer wissel van menslike kapitaalontwikkeling tot bestuur, volhoubaarheid en belanghebberdeelname”.

Engelbrecht sê sy is opgewonde oor die vooruitsig om haar by die US-raad aan te sluit en saam met mederaadslede te werk om ’n betekenisvolle bydrae tot die volgehoue sukses van die universiteit te lewer.

Engelbrecht het aan die Universiteite van Wes-Kaapland en Kaapstad in die regte gestudeer en ’n bestuursontwikkelingsprogram aan die Stellenbosch Bestuurskool voltooi. Sy is in 1989 as ’n prokureur van die Hooggeregshof van Suid-Afrika toegelaat en het al verskeie senior bestuurs- en leiersposte in ’n verskeidenheid maatskappye beklee.

Sy het eers as groepdirekteur van onderskeidelik korporatiewe sake en menslike hulpbronne van die Clicks-groep gedien voordat sy in Januarie 2022 as uitvoerende hoof van die groep aangestel is. Sodoende het sy die eerste swart vrou in Suid-Afrika geword om ’n genoteerde kleinhandelgroep te lei.. Twee raadslede word deur die US-raad self aangewys, terwyl die res verteenwoordigers van verskeie belanghebbergroepe van die universiteit is waaronder die Konvokasie, Senaat, donateurs, aanstellings deur die minister van hoër onderwys en die Studenteraad.

You need to be Logged In to leave a comment.