Indien daar ’n silwerrandjie aan die onlangse inbraak by hul fasiliteit is, is dit die invloed van ondersteuning vanuit die gemeenskap.
Só sê Lurika Munnik, aan die stuur van ’n program wat sewe kinders by die Old Welgelegen-plaas huisves.
Munnik het onlangs ’n gebou begin huur om ’n gespesialiseerde en individuele onderrigprogram aan te bied.
Verlede Maandag (18 Maart) het sy by die gebou gekom en die skuifdeur oop gevind. “Hulle het natuurlik ’n klomp goed uitgegooi, soos speelgoed, om by die kratte uit te kom. Al ons elektroniese toestelle is gevat – die mikrogolf, ’n klein luidsprekertjie, CD-speler en drie skootrekenaars. Ek is nie juis gepla oor twee nie, maar die derde het al die kinders se inligting op,” verduidelik sy.
Allerhande kabels is ook gesteel, asook die lamineermasjien.
Munnik sê sy het geweet die gebou benodig ’n sekuriteitstelsel. Aangesien sy alles uit haar eie sak betaal, was daar nie geld om ’n alarm aan te skaf nie.
“Jy sal nie glo hoe die gemeenskap ingespring het nie; hoe hulle ons aangemoedig en uitgekyk het vir die goedere nie,” sê sy.
Munnik sê ’n inwoner het Maandag gesien iemand staan met ’n mikrogolf voor ’n tweedehandse winkel en het alarm gemaak. “Dit was ons eerste wenk en daardeur kon ons meer wenke kry. Ek kan nie glo mense kan só inspring en bemoediging bied en saamstaan nie – veral die gemeenskap van Cloetesville. Ek sal hulle ewig dankbaar wees vir hul hulp,” sê sy.
Die Stellenbosch-polisie het bevestig van die gesteelde goedere is gevind en by die polisiekantoor ingehandig. Niemand is in hegtenis geneem nie en die saak word ondersoek.
- Kontak AO Claude Louskitt by 021 809 9140 met inligting oor die voorval.