Jacobus “Kosie” Marais van Cloetesville sê sy vrou, Shuritha, gaan nie nog ’n winter in hul stukkende wendyhuis oorleef nie. Foto: Yaël Malgas


’n Cloetesville-paartjie met ’n stukkende wendyhuis vrees die komende winter sal hul laaste wees.

Jacobus “Kosie” Marais (65) sê sy vrou, Shuritha (46), het reeds ses keer tuberkulose gehad, en om met hul stukkende woning nog ’n winter deur te maak, sal die einde van sy eggenoot se lewe beteken.

“Die wendyhuis het jare terug al begin sak, maar die stukkende deur is vir die afgelope twee of drie jaar,” vertel hy.

Kosie en sy gesin van drie woon saam in ’n wendyhuis op ’n erf waar sy twee susters ook woon.

Só beknop is die huisie dat Kosie, Shuritha en hul 16-jarige op een bed slaap. Die grond waarop die huisie staan, sak na die een kant toe en binne staan alles op ’n skuinste – selfs die tweeplaatstofie waarop hulle kosmaak.

Die plaaslike Stellenbosch- munisipale raadslid Elsabe Vermeulen het daarin geslaag om ’n tweedehandse wendyhuis vir die egpaar te kry, maar die egpaar kon nie die vervoerkoste dek om die wendyhuis op ’n plaas te gaan haal nie, en is toe dié nuwe woning kwyt.

“Ons het net ons twee se Sassa-geldjies en dit was nie genoeg nie. Dit is ook nie genoeg om ’n nuwe wendyhuis te koop nie,” sê Kosie.

Nou moet Kosie daagliks die deur, wat heeltemal van die skarniere af is, langs die huis plaas om in en uit te gaan. Selfs wanneer die deur toe is, is daar ’n opening wat wind en gure weer by die een vertrek inlaat.

Die gemeenskapswerker Felicity Roland sê daar is nie veel organisasies of instansies waar inwoners in nood kan aanklop nie. “Shuritha het verlede jaar by die dood omgedraai en haar gesondheid is beter, maar steeds nie 100% nie. Verlede winter was dit so koud soos ’n yskas hierbinne,” vertel Roland.

  • Skakel Felicity Roland by 073 277 5050 om te help en voor die winter ’n verskil te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.