‘n Klagte van openbare geweld word ondersoek nadat keelvol inwoners op Sondag 5 Oktober die strate van Cloetesville saam met lede van Pagad ingevaar het om kwaaddoeners in die gemeenskap te laat verstaan inwoners is moeg vir hul bedrywighede.
Lede van People Against Gangsterism and Drugs (Pagad) het saam met inwoners van die Cloetesville-dorpsmark in Langstraat tot in Smartie Town gestap.
“One merchant, one bullet! One gangster, one bullet!” het lede van Pagad en gemeenskapslede tydens hul tog deur die buurt se strate laat hoor.
Inwoners het by die Cloetesville-mark byeengekom, waar ‘n groot polisie-teenwoordigheid voor die optog was. Lede van Pagad is gevra om maskers en doeke te verwyder vir die stap en gemaan om nie enige mense by wonings te intimideer nie.

Wat aanvanklik ‘n vreedsame optog was, het egter in omstredenheid ontaard toe betogers en polisiebeamptes later gebots het en rookbomme gebruik is om die betogers uitmekaar te dryf.
Die Cloetesville-polisiewoordvoerder AO Zenobia Sedeman het bevestig ‘n saak van openbare geweld word nou ondersoek toe “die openbare-orde-polisiëringseenheid (Pops) die gemeenskap verhoed het om by geïdentifiseerde wonings skade aan te rig”.
Talle inwoners het Sondag gesê hulle is moeg vir daaglikse rooftogte en die voortslepende bendegeweld waaronder hulle ly.
BURGEMEESTER GETEIKEN
Cloetesvillers is al só keelvol dat sommige nie juis simpatie gehad het toe rowers Stellenbosch se eerste burger op Donderdag 2 Oktober geteiken het nie. “Laat hy voel waardeur ons elke dag moet gaan,” het een betoger gesê.
Dit volg nadat Stellenbosch se burgemeester, Jeremy Fasser, in Cloetesville was vir ‘n terreinbesoek vir ‘n moontlike vroeëkinderontwikkelingsentrum in die buurt.
Die Stellenbosch-munisipaliteit het bevestig die man wat Fasser tydens die besoek vergesel het, is aangeval en van sy selfoon beroof. Fasser se selfoon is ook uit sy voertuig gesteel.
“Gemeenskapslede sowel as polisiebeamptes, wat vinnig opgetree het, was in die gebied. Danksy hul optrede is al die selfone teruggekry. ‘n Klagte is by die Cloetesville-polisie aangemeld en die ondersoek is tans hangend,” het die munisipaliteit luidens ‘n verklaring bevestig.
Fasser sowel as die slagoffer was ongedeerd.
POLISIE ‘HARDHANDIG’
Sedeman bevestig rooftogte en skietvoorvalle is steeds die mees algemene misdrywe in die gemeenskap.
“Om misdaad te probeer voorkom, moet die gemeenskap die polisie se oë en ore wees om dit aan te meld. Alle inligting word as vertroulik beskou,” het sy verduidelik.
Cloetesvillers het egter hul ontevredenheid uitgespreek oor hoe die optog ná die konfrontasie op die hoek van Pine- en Northendstraat tot ‘n einde gekom het en meen die polisie se optrede was hardhandig.



You must be logged in to post a comment.