Die Early Education-sentrum in Cloetesville het van Maandag 23 tot Vrydag 27 September altesaam 27 kinders aan sy vakansieprogram by die Laerskool Rietenbosch laat deelneem. Die program is geborg deur die hulpfonds van die Stellenbosch-munisipaliteit en die kinders het ontbyt, ’n snoepdingetjie, middagete en ’n geskenkpakkie ontvang. Die vakansieprogram het gefokus op gesondheid, fiksheid en sport en bekende sportlui soos die voormalige Springbok-skrumskakel Bolla Conradie, die voormalige Saru-senter Ivan Jacobs en die atletiekafrigter Wilfred Daniels, wat die kinders in rugby en atletiek touwys gemaak het. Peter Daniels, ’n onderwyser by die Laerskool Rietenbosch, het die vakansieprogram in samewerking met die personeel van die Early Education-sentrum gereël en die kinders kon speletjies speel en ook van hul oortollige energie in die onderskeie sportsoorte ontslae raak. Die sentrumbestuur het hul dank betuig aan die ouers wat hul kinders aan die sorg van sy personeel toevertrou het om aan die vakansieprogram deel te neem. Hy het ook Jardine Jappie, skoolhoof van die Laerskool Rietenbosch, vir die gebruik van die skoolsaal bedank.