Cloetesville-leerders wen nasionale been van die WOW-spelkompetisie

Of dit nou ’n groot of lang woord met ingewikkelde spelling of ’n klein, kort alledaagse woord is – twee leerders van Hoërskool Cloetesville (HSC) kan dit spel, en dit in minder as 30 sekondes.


Of dit nou ’n groot of lang woord met ingewikkelde spelling of ’n klein, kort alledaagse woord is – twee leerders van Hoërskool Cloetesville (HSC) kan dit spel, en dit in minder as 30 sekondes.

Cohen Green (14, gr. 8) en Wayleetha Keyster (15, gr. 9) van HSC het verlede Saterdag (15 Oktober) skoonskip gemaak in die Engelse afdeling van die US Toyota Woordfees se WOW-spelkompetisie.

Green was die wenner en Keyster het derde geëindig.

Nagenoeg 58 skole het aan die spelkompetisie deelgeneem en gr. 8- en gr. 9-leerders moes meer as 600 woorde leer om hulle op die kompetisie voor te berei. Die spelkompetisie word oor ’n tydperk van ’n jaar gehou met uitdunne in die streek, provinsiaal en ook in nasionale rondes.

Green en Keyster het al twee goed gevaar en van die streek- en provinsiale uitdunne na die nasionale ronde deurgedring.

HS Cloetesville se spelafrigter, Ashleigh Thys, sê die leerders het hard geoefen en sy is baie trots op hulle. “Die kompetisie is straf, maar hulle het gewys hulle kan met leerders van die beste skole meeding en beter vaar ook,” het sy bygevoeg.

Thys sê die kompetisie was baie uitputtend en hulle moes tussen 19 en 28 rondes trotseer om tot die eindstryd deur te dring. “Dit is intens en kan langdradig word. Elke leerder het slegs 30 sekondes om ’n woord te spel, en jy moet mooi luister om seker te maak jy spel die regte woord. Sodra jy begin spel, begin jou tyd loop.”

Green sê hy is verlig dat hy gewen het. “Ek het geweet ek staan ’n kans om te wen en my beste gegee. Ek het nie eintlik hard geleer nie – ek het net deur die woorde gelees,” voeg hy by.

Keyster sê sy het net vier dae gehad om vir die nasionale kompetisie te leer. “Ek het my woorde by die skool vergeet voor die skool gesluit het en kon nie tydens die vakansie oefen nie – ek het toe intussen deur my woordeboek gegaan en woorde se definisies geleer,” sê Keyster.

“Ons wil graag ons dank aan die WOW-span asook die Engelse departement betuig,” voeg Thys by.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.