Cloetesville se inwoners sê hulle is moeg vir die daaglikse misdaad in hul buurt en het Sondag (19 Mei) die strate ingevaar.
Bejaardes, kinders, gesondheidswerkers, lede van dié buurt se gemeenskapspolisiëringsforum en lede van verskeie buurtwagte is deur die polisie, wetstoepassers en plaaslike sekuriteitsmaatskappye bygestaan.
Die betogers het in hul optog van Gabrielsweg deur die buurt geloop, met talle wat op die sypaadjie gestaan en kyk het hoe die groep verby beweeg.
“Dit is ’n riem onder die hart om julle almal hier te sien, ek haal my hoed af vir julle,” het Marshall September, ’n inwoner en een van die organiseerders, aan die groep gesê toe hulle by die Cloetesville-polisiekantoor hul optog beëindig het.
Inwoners het aan lt.kol. Monique Fortuin, Cloetesville-polisie se nuwe bevelvoerder, en haar kollegas vertel hulle is moeg om in vrees te leef.
“Geen gebied in Cloetesville kan uitgesonder word nie omdat dit nou oral te gevaarlik is om vrylik sonder vrees rond te loop, en binnekort sal ons ook nie meer e-hailing-dienste kan versoek nie as gevolg van die hoë vlakke van misdaad,” lui die groep se memorandum.
Die inwoners vertel ook die misdaad beïnvloed die inkomste van vele, aangesien huiseienaars verblyf vir studente bied. Aangesien veiligheid in die buurt ’n bron van kommer is, meen hulle hul inkomste is in die gedrang, met huurders wat nie meer in die buurt sal wil bly nie.
Roofaanvalle op voetgangers wat werk toe gaan of terug huis toe keer is ook uitgelig.
“Skietery en bendegeweld is ook nou ’n daaglikse verskynsel in die gebied, met vele moorde wat in Cloetesville aangemeld word,” sê die gemeenskap.
Die groep doen ’n beroep op die polisie om, onder meer, meer sigbaar te wees, om die sektor-polisiëringsmodel terug te bring, dat die teen-bende-eenheid in Cloetesville en Idasvallei ontplooi word, en om misdaad-intelligensie te versterk.
Fortuin het die memorandum in ontvangs geneem en gesê sy sien uit om binne 30 dae met die gemeenskap oor hul voorstelle te vergader.
Felicity Roland was ook een van die organiseerders van die optog. Sy meen dit was belangrik om vreedsaam tog ferm hul boodskap aan kwaaddoeners in die gemeenskap oor te dra.
September sê dit is belangrik om dié kwaaddoeners as meer as net “elemente” te beskou en eerder vir die mense wat hulle werklik is. “Waar hulle met vuurwapens in die buurt rondgehardloop het, glo ons hulle sal na die Here hardloop. Die saadjie is vandag geplant,” sê hy.