Tot hier toe en nie verder nie – wat geweld en dwelmsmokkelary betref.

Hoe lank sal Cloetesville se inwoners nog gebuk gaan onder moorde wat elke week gepleeg word?

Hoe lank nog?

Eers het dit naweke en snags plaasgevind, maar nou vind dit byna elke dag plaas.

Een seuntjie het hardop genoem hy het lus om moord te pleeg, ’n vuurwapen gaan haal en iemand geskiet.

Waar is die polisie?

Ons het al hoeveel kolonels gehad . . . hulle belowe plegtig dat hulle misdaad gaan stop.

Ek stel voor dat die polisiekantoor in Cloetesville omgeskep word in woonhuise en ons as inwoners sal beter werk doen – dit verseker ek jou.

Een dwelmhandelaar het hardop gesê: “Ons is untouchable”!

Ek stel voor bendes wat in sub-ekonomiese huise bly, moet summier uitgesit word. Dwelmhandelaars moet uitgejaag word.

Een polisieman het op TV gesê ’n dwelmhandelaar is ’n massa- moordenaar. Dis so waar.

’n Werklose tiener verslaaf aan dwelms sal hom tot ’n bende wend.

’n Werklose tienermeisie sal haar liggaam verkoop, want haar ouers sal haar nie dwelmgeld gee nie.

Ek doen ’n ernstige beroep op Cloetesville se kolonel en polisie om hulle nie net met verklarings besig te hou nie, maar voorkomend op te tree.

Genoeg is genoeg.


Bekommerde pastoor,

Cloetesville

You need to be Logged In to leave a comment.