Cloetesville-sibbe bied haarsnit met doel

,

‘n Broer en suster van Cloetesville hoop hul nuwe gemeenskapsprojek Neat to Feed kan plaaslikes help deur die hare te laat waai.


‘n Broer en suster van Cloetesville hoop om inwoners se koskasse aan te vul terwyl hulle skenkers se hare laat waai.

René February en haar broer, Dean Gordon, het verlede Kersfees ‘n plan beraam waarvolgens Gordon mense se hare sny in ruil vir nie-bederfbare kos wat hulle twee dan as deel van kospakkies aan behoeftiges skenk. Gordon is verantwoordelik vir die neat, terwyl sy sus regstaan om te feed.

Die twee se skedules het dit verlede Donderdag (10 April) die eerste keer moontlik gemaak dat hulle Neat to Feed in werking kon stel.

Gordon het al die nodige toerusting na Huis Ebenhaeser geneem om die hare en baarde van die bejaardes gratis te sny.

Dié 26-jarige het homself reeds op skool geleer om hare te sny. Hoewel hy destyds by Builder’s Warehouse gewerk het, het hy steeds hare gesny en onlangs besluit om dit sy voltydse werk te maak. Hy is die afgelope maand deel van die Barber SA-span in Eikestad Mall.

“Ons het nie altyd genoeg om ander finansieël te help nie, maar ek wou iets doen om iets aan my gemeenskap terug te gee.

“Ek wou ander jong manne in die gemeenskap laat besef daar is opsies vir hulle en hulle hoef nie op iemand anders te wag om iets positief in hul gemeenskap te doen nie,” vertel Gordon.

February sê hoewel sy die twee kospakkies vir Neat to Feed se eerste oorhandiging geskenk het, is die hoop dat sakelui en boere Neat to Feed sal ondersteun deur hul werkers se hare in ruil vir skenkings te laat sny.

February verduidelik die idee is nie om geld te ontvang nie, maar liewer kruideniersware.

“Ons het dit nie breed gehad nie, maar ek onthou hoe my ma met my geraas het omdat ek as kind haar kos gesteel het om vir ‘n gestremde tannie in die buurt te gee. Die buurvrou het my altyd verklap en vir my ma vertel ek het ‘al weer’ die kos weggedra,” vertel February.

Dean Gordon en sy suster René February (regs) oorhandig ‘n kospakkie oor aan Francina Cyster.

“Die Here het dit so gemaak dat ons nog nooit honger gaan slaap het nie, maar almal is nie so gelukkig nie. Ek is bly ons kan teruggee aan die inwoners van Huis Ebenhaeser.

“Hulle lê my so na aan die hart, omdat ek jare gelede hier ‘n kok was. Sommige van die inwoners is al langer as 20 of 30 jaar hier.”

Steven September en Denise Rhode was van die inwoners wat hul gratis haarsnit geniet het. Rhode het jare gelede haar hare begin kort sny en was in haar noppies met haar boy’s cut. September het op sy beurt sy baard laat waai en Gordon het mooi gewerk om hom ‘n spoggerige voorkoms te gee.

Die sibbe meen die Here het hulle Neat to Feed op die hart gelê.

“Met die footjies wat ek by die werk ontvang het, het ek soms vir ‘n oom buite die mall iets gekoop om te eet, maar dit was nie altyd moontlik nie. Ek is ook die broodwinner vir my eie gesin, maar ek dink toe ek kan my tyd en my vaardighede skenk om mense soos die oom te help. Hulp het nie altyd geld nodig nie,” sê Gordon.

Deur sy liefdadigheidswerk hoop hy ook jongmense besef hulle hoef nie jare lank te studeer om iets van hulself te maak nie.

Hy meen daar is talle jong mense soos hy wat meer met hul hande wil werk en praktiese vaardighede wil aanleer.

Vir Donderdag se besoek het February haar bak-en-brou-vaardighede ingespan om gebak vir Huis Ebenhaeser-inwoners te maak, ten spyte van ‘n vol dag se werk in die kombuis vir ‘n plaaslike tehuis.

“Ek geniet dit om kos te maak; ek kan dit heeldag doen, dus is die groot droom om eendag my werk te los en die gemeenskap voltyds te help.

“Dan kan ons dienste vir haweloses en minderbevoorregtes uitbrei, of mense te help wat onderhoude het, maar nie ‘n besoek aan die barbier kan bekostig nie.”

Nou poog February en Gordon om hul afdae met familie-ondersteuning te gebruik om Neat to Feed volhoubaar te maak.

 • Bel February by 074 689 5959 vir nog inliging oor Neat to Feed, of om ‘n afspraak met die sibbe maak.

You need to be Logged In to leave a comment.