Twee families tel die stukke op nadat hul wonings die afgelope Saterdag (9 November) vlamgevat het.
Nadat ’n vuur in ’n agterplaas in Sylviastraat, Cloetesville, gemaak is, is verskeie wonings in puin gelaat.
“Jy kon net staan en kyk hoe alles brand,” vertel Louise Moffat oor die naweek se gebeure.
Moffat en nog nege familielede het by Sylviastraat 66 gewoon. Haar dogter en seun was albei in hul eie wendyhuis en dié het ook tot as verbrand. Die ouma sê die wind was redelik sterk en haar buurvrou langsaan het ook alles verloor.
“Sy het net soveel skade gely as ek. Hulle bly nou steeds in die uitgebrande huis, want hulle het geen ander plek om heen te gaan nie.”
Moffat sê dit was laatmiddag toe hulle voor hul hoekhuis gesit en kuier het. Hulle het agtergekom iets is fout toe iemand skree “dit brand”.
Buiten twee familielede, onder wie ’n 19-jarige wat hospitaal toe is vir rookinaseming, is niemand in die brand beseer nie. Moffat sê haar seun en kleinkind het Maandag vir opvolgbesoeke gegaan en alles lyk goed.
In Sylviastraat is egter nie veel oor nie. Moffat sê skenkings van klere het ingestroom en sy is dankbaar.
“My bekommernis is nou kos, want daar is nie geld nie. My begeerte is om ’n plekkie van my eie te hê. Al 10 van ons is nou by een van my kleinkinders. Ons is almal hier in een vertrek en ons kan haar nie vir ewig so verontrief nie.”
Die gesin het langer as twee dekades in Sylviastraat gewoon. Moffat sê die Stellenbosch-munisipaliteit het uitgereik en sal ’n tydelike woning verskaf, maar sy weet nie hoe lank dit sal neem om dié wendyhuis op te rig nie.
- Enigeen wat die families kan bystaan, kan ’n draai by Sylviastraat 64 maak.