Vier dae en 129 km later het ‘n moeë maar gelukkige Keith Present terug in Cloetesville aangekom nadat hy Donderdag 28 Augustus in die pad geval het om na Robertson te draf om sanitêre doekies in te samel.
Die 33-jarige is op die R44-pad, naby Welgevonden, deur sy trotse ma, Nadine, “gaan haal” toe sy die laaste paar meter van sy tog vir Vrouemaand saam met hom afgelê het.

Keith, ‘n lid van die Cloetesville- sokkerklub se bestuur, het verlede week vir die Run4Wings-projek padgevat. Hy en die klub het deur sy draftog sanitêre produkte ingesamel, wat aan vroue en meisies van die buurt geskenk sal word.
“Toe Keith ons van sy planne vertel, was dit eers ‘n groot grap. Wie is nou ernstig om van Cloetesville na Robertson en dan terug te hardloop? Namate Augustus nadergekom het, het die groot grap ‘n werklikheid geword,” sê Relston Lakay, die voorsitter van die Cloetesville-sokkerklub.
Lakay sê die klub is baie trots op Keith. “Dit het bonatuurlike krag geverg om vir ‘n dag lank te hardloop, in Robertson aan te kom en dan te weet jy moet die volgende oggend weer in die pad val. Ons is dankbaar vir almal betrokke.
“Dit is vir ons as klub belangrik om te help om die gemeenskap positief te transformeer; daarom doen ons wat ons kan met beperkte hulpbronne.”
Keith en sy neef Marlon het Donderdagoggend van die Stone Square KwikSPAR, ‘n Run4Wings-borg, saam met hul ondersteuningspan weggespring.
In Robertson is die twee onder meer deur die Langeberg-munisipaliteit se burgemeester, Schalk van Eeden, verwelkom, wat ook ‘n skenking oorhandig het.

Die drawwers het in Worcester by hul tannie Lucinda Wehr oornag voordat hulle terug is Stellenbosch toe.
“Donderdagaand moes ek Marlon lekker uitsmeer, want die spiere was maar seer,” skerts Wehr.
Haar man, Kenny, het vir ‘n gedeelte van hul tog saam met die drawwers gery.
Vriende, familie en ondersteuners het die drawwers Sondag 31 Augustus by die Stellenbosch- Akademie van Sport verwelkom en saam met Keith en Marlon middagete geniet. Hoewel Marlon weens ‘n kniebesering nie die hele tog saam met Keith voltooi het nie, was hy by die eindstreep.
“Ek is klaar met hardloop vir nou. Ek het nog twee verlofdae oor en sal die tyd gebruik om te herstel,” het Keith gesê.
Die neefs is verheug oor die ondersteuning wat hulle ontvang het en sê volgende jaar sal hulle nog groter gaan. Keith verduidelik dit grief hom dat meisies en vroue vir sanitêre produkte moet betaal terwyl kondome gratis beskikbaar is. Die insameling was dus om waardigheid aan meisies, wat dalk nie hul eie doekies kan bekostig nie, te bied.
Volgens Ndipiwe Olayi, ‘n Stellenbosch-raadslid, is dit wonderlik om te sien dat jongmense daad by die woord voeg om ander te help.



You must be logged in to post a comment.