Twee Cloetesvillers was aangenaam verras toe hulle mekaar op die stel van ’n bekende TV-speletjiesprogram raakloop en boonop teenstanders in dieselfde episode was.
Yolanda Segals en Kevin Jooste vertel dat hulle geweet het dat hulle van dieselfde buurt is, maar dat hulle eers regtig mekaar Maandag 4 Julie op stel ontmoet het.
“My suster het haar eerste herken, want ons is Facebook-vriende,” sê Jooste.
Segals sê sy het nie verwag om enige bekende gesigte by die ateljee te sien nie en was verbaas toe sy Jooste en sy suster daar raakloop. “Ek het gedink hulle is deel van die gehoor, maar helaas was Kevin egter een van my teenstanders en dit nogal op dieselfde episode,” voeg sy by.
Vir hulle is dit nie die eerste keer dat hulle aan ’n TV-speletjiesprogram deelneem nie. Segals het in 2008 aan Noot vir Noot deelgeneem en Jooste toevallig ook in 2019 aan Noot vir Noot.
Volgens hulle was dit van kleins af ’n droom om aan ’n TV-speletjiesprogram deel te neem.
“My liefde vir hierdie soort programme kom van jongs af toe ek altyd Noot vir Noot op die televisie gekyk het,” vertel Jooste.
“Vir ons was dit altyd Donderdagaande familietyd, net ná aandete wanneer die speletjiesprogramme opgekom het – die bekendste een was seker Noot vir Noot. Ons het daarmee groot geword,” sê Segals.
Hulle vertel verder dat hulle dadelik die kans gevat het toe hulle uitvind dat hulle oudisies kan doen om op die TV-speletjiesprogramme te kan verskyn.
Segals sê sy het in 2008 as jong onderwyser gehoor van die oudisies en dadelik besluit om in te skryf. “Ek dink die gogga het my toe gebyt en vandag het ek al aan drie TV-speletjiesprogramme deelgeneem.”
Jooste sê hy wou altyd aan die programme deelneem, maar dat hy afgeraai was omdat hy ’n kankerlyer is en chemo-behandeling ontvang. “Hulle het gesê die chemo vernietig my breinselle, maar ek het hulle verkeerd bewys en in 2019 aan Noot vir Noot deelgeneem en tweede daardie dag geëindig. Dit was die eerste seisoen met Emo Adams as aanbieder.”
“Dit is altyd ’n groot kans wat jy waag en jy weet nooit of jy gaan deurdring na die volgende ronde nie, maar dit is altyd die moeite werd,” beaam hulle.
“Dit is altyd lekker wanneer ek ’n punt bereik waar ek in myself getwyfel het, maar dan myself verkeerd bewys en verder vorder. En as ek na elke advertensiebreek steeds aan die gang is,” vertel Jooste.
Segals sê behalwe dat mens bekende vermaaklikheidsterre ontmoet, “maak jy ook lewenslange vriende met ander deelnemers.”
Hulle voeg by dat oudisies nie so maklik is soos wat mense dink nie. “Jy moet baie goeie kennis van ’n verskeidenheid musiekgenres het. En jy kan net deurgaan as jy al die oudisies slaag,” sê Jooste.
Hulle albei het met die radio grootgeword en dit het hulle musiekkennis verbreed.