Dinsdag (25 Maart) was ‘n dag van oorweldigende blydskap vir meer as 25 inwoners van Cloetesville, wat nou amptelik huiseienaars is.
Amptenare van die Stellenbosch-munisipaliteit en verteenwoordigers van die Vryemarkstigting Suid-Afrika, asook jare lange huurders van munisipale eiendom in Cloetesville, het ter viering van Menseregtemaand by die Eike-saal byeengekom vir die amptelike oorhandiging van titelaktes aan meer as 25 nuwe huiseienaars. Die oorhandiging van die titelaktes is ‘n nuwe begin vir die begunstigdes en hul regte en toekoms word hierdeur verseker.
Onder die gaste wat die mylpaalviering bygewoon het, was die uitvoerende burgemeester van Stellenbosch, Jeremy Fasser, terwyl die 86-jarige Salama Daniels die oudste begunstigde onder die groep was. “Private eiendomsreg is fundamenteel vir ekonomiese bemagtiging, stabiliteit en sekuriteit,” het Fasser gesê. “Titelakte-eienaarskap bied inwoners gemoedsrus en die geleentheid om ten volle aan die ekonomie deel te neem. Vir baie is dit die hoogtepunt van jare se wag en vandag vier ons hierdie prestasie saam.”
Temba Nolutshungu, ‘n verteenwoordiger van die Vryemarkstigting Suid-Afrika, ‘n sleutelvennoot wat die munisipaliteit bystaan om die dikwels ingewikkelde proses van registrasie en oordrag van aktes aan die regmatige eienaars te bespoedig, het ook die spesiale geleentheid bygewoon.
“Dit is ‘n lang en uitdagende taak – om oorspronklike aktes op te spoor, eienaarskap te verifieer en behoorlike registrasie te verseker, is geen geringe taak nie. Maar die beloning is van onskatbare waarde,” het Fasser bygevoeg.
Die munisipaliteit het ook werksessies aangebied om nuwe huiseienaars oor die belangrikheid van titelaktes op te voed. “ ’n Titelakte is meer as net ‘n dokument; dit is ‘n toegangspoort tot finansiële geleenthede,” het Fasser gesê.
Luidens ‘n verklaring sal die munisipaliteit voortgaan om met vennote soos die Vryemarkstigting te werk sodat meer inwoners huiseienaarskap kan ervaar.


