Wou jy nog altyd ’n verskil in jou gemeenskap of die lewe van ander maak, maar ’n gebrek aan inkomste en werk verhinder jou? Is jy ’n jongmens wat jou loopbaan aan die gang wil kry in ’n omgewing waar jy ’n verskil kan maak en ook indiensopleiding kan kry?
Wel, nou is jou kans!
Community Keepers (CK) brei na twee nuwe provinsies uit en bied 64 nuwe werksgeleenthede vir werklose jongmense om as versorgingsfasiliteerders in gemeenskappe in Gauteng, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap bemagtig te word.
Die program word deur die nasionale tesourie se werksfonds (jobs fund) ondersteun.
CK is ’n maatskaplike organisasie sonder winsbejag met ’n visie om die sosiale en emosionele welstand van leerders te verbeter en te bevorder deur ondersteuning aan skoolgemeenskappe te bied sodat leer en ontwikkeling kan floreer. CK belê in die sosiale en emosionele welstand van leerders deur hom by skole te vestig waar hulle professionele maatskaplike dienste aan leerders, opvoeders en ouers of voogde oor ’n lang termyn lewer.
“Ons werk saam met 40 nuwe skole wat deur die nasionale tesourie se werksfonds ondersteun word. Altesaam 64 nuwe rolle is geskep, waarvan vier poste in bemarking en gemeenskapskakelbeampte-poste is. Ons verdubbel basies in grootte,” sê Tammy Gordon, ’n gemeenskapskakelbeampte by CK.
Altesaam 80 kortlyskandidate word genooi om aansoek te doen om ’n drie maande geestesgesondheid-noodhulp-opleidingsprogram, wat volledig geborg is, in April, Mei en Junie by te woon.
Van die 80 aansoeke sal 40 finaliste aangewys word om van 1 Julie af as hulp-maatskaplike werkers te begin. Elkeen sal by ’n skool geplaas word. As jy nie geplaas word nie, is niks tevergeefs nie – jy stap weg met ’n kwalifikasie in geestesgesondheid-noodhulp. Gebiede waar die poste beskikbaar is, is reg oor die Stad Kaapstad, die Kaapse Wynlande, Bonnievale, die plattelandse Oos-Kaap en Mamelodi.
“Die vereistes is minimaal. Al wat jy moet hê, is ’n hart vir die gemeenskap, jy moet in die gemeenskap woon, werkloos wees, geen misdaadrekord hê nie en bereid wees om dit as ’n intreevlakpos te beskou en opgelei te word as ’n hulp- maatskaplike werker, Jy moet ook minstens gr. 9-opvoeding en basiese rekenaarvaardighede hê.”
Om aansoek te doen, kan kandidate ’n profiel skep by CK.JobJack.co.za of SAYouth en aansoek doen om die betrokke rol en ’n vinnige geletterdheids- en syfervaardigheidstoets aanlyn voltooi.
Nqaba Mpemnyama, ook ’n gemeenskapskakelbeampte by CK, sê die proses is eenvoudig en maklik. Gordon van Cloetesville sowel as Mpemnyama van Khayamandi het die proses gevolg en was suksesvol.
“Moet nooit in jouself twyfel of dink jy staan nie ’n kans omdat CK so ’n groot organisasie is nie.
“Ek het CK op sosiale media gevolg om meer oor geestesgesondheid te leer en die geleentheid gesien en aansoek gedoen.
“Vandag is ek deel van CK. Jy weet nooit – dalk is jy die een na wie CK soek,” voeg Mpemnyama by.
Gordon sê: “Jy leer baie oor jouself en die werkplek deur die program. Dit is regtig ’n goue geleentheid vir enigeen.”
Gordon en Mpemnyama sê hulle is bly hulle het die geleentheid aangegryp en kan so ook ’n verskil in hulle gemeenskappe maak.
Plakkate met meer inligting oor die geleentheid is by verskeie skole, biblioteke, winkels en openbare plekke in en om Stellenbosch opgeplak.