Die eerste span van die Stellenbosch Coronations-rugbyklub is die afgelope Saterdag (8 Oktober) as die kampioene van die Westelike Provinsie se streekliga gekroon na ’n naelbytstryd teen die Gardens-rugbyklub.
Die eindstryd is in die City Park-stadion in Athlone beslis met beide Coronations en Gardens se eerste en tweede spanne wat mekaar in die eindstryd van hul onderskeie afdelings gepak het.
Coronations se tweede span kon egter nie die pyp rook teen hul sterker Gardens-opponente nie.
Die tweedespan-wedstryd het om 13:00 afgeskop met Gardens wat in die eerste helfte met ’n strafskop die enigste punte aangeteken het. Coronations kon egter geen punte aanteken nie. Die halftydtelling was 3-0 in Gardens se guns.
In die tweede helfte het Gardens drie drieë aangeteken waarvan een verdoel is. Coronations het hierop met twee drieë deur Oscar Kock en Aubrey Lucas geantwoord wat deur Jeffrey Sobashe verdoel is. Die eindtelling was 20-14 in Gardens se guns.
Die hoofwedstryd het om 15:00 afgeskop met Gardens wat die voortou geneem het toe sy heelagter oorval vir ’n verdoelde drie.
Gardens is ook ’n strafdrie toegeken.
Coronations het hierop geantwoord met twee strafskoppe wat deur Clayton April oorgeklits is wat die halftydtelling 12-6 in Gardens se guns gelaat het.
Coronations het na halftyd hard teruggeveg en Wilbur Volkwyn en Jaco Konstabel het elk ’n drie gedruk; Riyaad Adonis kon egter net Konstabel se drie verdoel.
Gardens het twee drieë gedruk, maar kon nie daarin slaag om dit te verdoel nie. Coronations is ook ’n strafdrie toegeken wat die eindtelling 22-25 in Coronations se guns gemaak het.
Die oorwinning was ’n bittersoet oomblik vir die Coronations-rugbyklub nadat een van sy spelers, Adrian Arendse, vroeër vanjaar in ’n wedstryd noodlottig beseer is (“Laaste duikslag”, Eikestadnuus, 25 Augustus). Die wedstryd is opgedra aan Arendse en die klub se ondervoorsitter Lewellyn Adonis.
. Coronations se amptelike bekeruitdelingsgeleentheid vind Saterdag 29 Oktober in die Eikestadsaal plaas en kaartjies kos R100 per persoon. Almal wat belangstel om kaartjies te bekom kan óf met ’n speler óf met een van die bestuurslede kontak maak.