Die Stellenbosch Coronations-rugbyklub het baie om te vier nadat die eerste sowel as tweede span die afgelope naweek na die eindstryd van die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) se tweederonde-streekskompetisie deurgedring het.
Coronations se eerste span was onoorwonne in die uitspeelwedstryde van die tweede ronde en het boaan die punteleer geëindig. Die tweede span het een wedstryd verloor en het tweede op sy punteleer geëindig.
As gevolg van die eerste span, wat heel bo geëindig het, het dit hulle ’n tuis-kwarteindwedstryd teen die Titans-rugbyklub besorg, en aangesien Titans se tweede span bo-aan hul punteleer geëindig het, het Coronations se tweede span ook teen hulle te staan gekom.
WPRU het toe besluit aangesien al twee spanne teen mekaar speel, die tweede spanne op dieselfde veld as die eerste spanne sal speel. Die wedstryde is Saterdag 24 September op die Idasvallei-sportterrein beslis. Al twee Coronations se spanne het hul wedstryde gewen en is deur na die halfeindstryd.
Albei spanne het weer eens te staan gekom teen een klub, Silvertree-rugbyklub, maar aangesien Silvertree se tweede span boaan hul punteleer geëindig het, het hulle tuisveldvoordeel gehad.
Hulle het egter ooreengekom dat hulle hul tweede span sal bring om op Coronations se tuisveld te speel.
Die halfeindstryd is Saterdag (1 Oktober) op die Idasvallei-sportterrein beslis en al twee Coronations se spanne het weer eens die wa deur die drif getrek en gewen. Die eerste span het 21-10 gewen en die tweede span het 12-10 gewen.
Dit beteken dat al twee dié spanne deur is na die eindstryd, wat hierdie Saterdag (8 Oktober) op City Park in Athlone gespeel sal word.
’n Bus vertrek Saterdagoggend om 11:00 van Bergzicht af. Die koste beloop R50 per toeskouer en die bestuur vra dat soveel as moontlik mense Coronations in die eindstryd moet kom ondersteun.