Corries is kampioen van Boland!

Die vrouespan van die Coronations-krieketklub het 13 van sy 13 wedstryde dié seisoen gewen om as die kampioen van Boland gekroon te word.

Die vrouespan van die Coronations-krieketklub is Sondag (16 Maart) as die klubkampioen van Krieket Boland gekroon.
Die vrouespan van die Coronations-krieketklub is Sondag (16 Maart) as die klubkampioen van Krieket Boland gekroon. Credit: Verskaf

‘n Perfekte seisoen en die kans om as die sterkste vroueklubkrieketspan in die provinsie gekroon te word.

Dís die moontlike uitkomste vir die vrouespan van die Coronations-krieketklub, nadat dié span Sondag 16 Maart met sy sege oor die Stellenbosch-krieketklub op die Idasvallei-sportterrein as die kampioen van Boland gekroon is. Die Pniëllers het die tuisspan in alle aspekte van die wedstryd oorrompel en die eindstryd van die T20-kompetisie met agt paaltjies gewen.

Coronations het die loot gewen en Stellenbosch ingestuur om te kolf. Die Corries-boulers het nie teleurgestel nie en het die regte vrae vir die tuisspan gerig.

Die paaltjies het aanhou tuimel en die lopies was skaars; al Stellenbosch se kolwers was in die 12de boulbeurt terug in die kleedkamer, met die telbord op ‘n skrale 21 lopies. Moseline Daniels (5/3) en Doni Lin (2/11) het met die bal beïndruk.

Op hul beurt het die Corries-kolwers slegs 5.1 boulbeurte benodig om die teiken te oorskry en slegs twee paaltjies het gekantel.

Angus Simmers, afrigter van Coronations, is trots op sy span se vertonings die seisoen. “Die spelers het toewyding en deursettingsvermoë getoon, in elke wedstryd verbeter en hul beste gegee,” sê hy. “Ek wil elke speler gelukwens en bedank vir hul bydraes; ek is trots op elkeen van julle.”

Die oorwinning beteken Coronations het 13 van sy 13 wedstryde dié seisoen gewen – ses in die 50-boulbeurtliga en sewe in die T20-kompetisie. Die vroue se fokus skuif nou na hul voorbereiding vir die Wes-Kaapse streekkompetisie teen die klubkampioene van die Westelike Provinsie en Suid-Westelike Distrikte, wat dié naweek (Saterdag 22 en Sondag 23 Maart) deur WP by die Cravenby-krieketklub aangebied word.

Corries speel op 23 Maart sy twee wedstryde – teen Union Stars (SWD) om 10:00 en teen UWK (WP) om 14:00.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.