Corries-vroue struikel teen UWK

Die vrouespan van die Coronations-krieketklub het Sondag 23 Maart sy wedstryd teen UWK met een lopie verloor.

Credit: Alessandro Bogliari/Unsplash

Reën het die afgelope naweek die finale sê in die T20-streekskompetisie tussen die top-vroueklubkrieketspanne in die Boland, Westelike Provinsie en Suid-Westelike Distrikte, gehad.

Die spanne van die Coronations-, UWK- en Union Stars-krieketklubs, die wenners in hul afsonderlike ligas, het Saterdag 22 en Sondag 23 Maart by die Cravenby-krieketklub kragte gemeet om te bepaal wie die Wes-Kaap by die nasionale klubkampioenskap sal verteenwoordig.

Corries, die wenner van Krieket Boland se T20-kompetisie, was veronderstel om Sondag teen beide Union Stars (SWD) en UWK (WP) te staan te kom, maar reën en ‘n nat kolfblad het daartoe gelei dat die span se oggendwedstryd teen Union Stars deur middel van ‘n loot bepaal is en sy middagwedstryd teen UWK is tot slegs vyf beurte per kolfbeurt verkort.

Toe Union Stars en UWK Saterdag mekaar die stryd aansê, was die span van die Suid-Kaap te sterk vir die studente en hulle het vier punte opgetel.

Sondagoggend se wedstryd tussen Corries en Union Starts het uitgereën en ‘n loot het die wenner van die wedstryd bepaal, hoewel die twee spanne die vier punte gedeel het.

Met ‘n kans om as die kampioen van die streek gekroon te word nog op die spel, het Corries en UWK deur die loop van die dag gewag vir die reën om op te klaar en die veld en blad om speelbaar te wees.

Weens ‘n laat begin is die wedstryd tot vyf boulbeurte per span verkort.

UWK het eerste gekolf en 33/2 in sy beurt aangeteken. Vir Corries was Doni Lin (1/4) weer die staatmaker met die bal. Op hul beurt het die Coronations-vroue hul kolfbeurt met ‘n aggresiewe benadering getakel.

Die span van Pniël het amper-amper die lyn oorge-steek, maar teen die laaste bal was hul telling 32/4 – slegs een lopie kort. Die aanvangskolwer Delmari Hoffman (13) het die beste vertoning gelewer.

Hoewel die Bolanders nie die Wes-Kaap by die nasionale toernooi sal verteenwoordig nie, is die afrigter Angus Simmers steeds trots op sy span se vertonings hierdie seisoen.

“Ons is onoorwonne in alle kompetisies in die Boland, met die span wat al 13 van hul wedstryde gewen het. Die span het wel hul laaste wedstryd verloor, maar dit was ‘n naelbytstryd waar hulle alles gegee het. Ek is baie trots op wat elke speler se merkwaardige prestasie as lid van die span. Hulle het die klub en hul dorp se naam hoog gehou,” sê hy.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.