Leo de Wet van Pniël droom daarvan om eendag vir die Springbokke uit te draf. Hy het vroeër die maand sy talente in Doebai tentoongestel.


Nie almal is bevoorreg om in sy of haar rugbyloopbaan aan die internasionale o.19-seuns- of -meisiestoernooi in Doebai deel te neem nie. Leo de Wet van Pniël het egter aan die begin van die maand sy buiging vir die Peregrines-span gemaak en beskou dié ervaring as een van sy hoogtepunte tot dusver.

De Wet, ’n gr.11-leerder aan die Hoërskool Labori in Paarl, sê Doebai en alles wat met dié wêreldstad vereenselwig word, was iets buitengewoons om aan gewoond te raak.

“Dit was my eerste keer daar en die sewes was soveel vinniger en is in snikhete temperature gespeel. Ek het die ervaring baie geniet en kon ook baie nuwe goed leer in elke wedstryd wat ons gespeel het. Die kos daar kom egter nie naby my ma s’n nie, en dis al wat ek die week gemis het,” skerts hy.

Die 17-jarige se volgende doelwit is om in 2024 vir die Suid-Afrikaanse Skolespan te speel en dan sal hy sy rugbyloopbaan tree vir tree verder vat.

“Peregrines is saamgestel uit spelers van die Hoërskool Bredasdorp, Charlie Hofmeyer, HTS Drostdy, die Hoërskool Hugenote en dan ek, van Labori. Die span is genoem na ’n valk in die Boland, wat baie vinnig is, en sewes gaan mos maar als oor spoed en uithouvermoë, en dis waar die naam vandaan kom – gewis nie van die padstal anderkant Grabouw nie; dis ’n fout wat baie mense met die naam maak,” sê De Wet.

In die 15-man-spel speel hy binne- of buitesenter en in sewesrugby speel hy senter of vleuel.

“Ek sal graag die land in albei wil verteenwoordig en is ’n groot aanhanger van Cheslin Kolbe. Ek bewonder hom vir sy deursettingsvermoë en die feit dat hy hom nie laat voorsê het dat hy te klein is en nie vir die Springbokke kan speel nie. Daar is nie so iets soos dat alles in rugby afhang van jou grootte nie – dit hang af of jy die hart het om te wys jy kan dit doen, of nie.

“My korttermynplanne is om in die Cravenweek te speel en die SA Skolespan te haal, en my langtermynplanne is – as dit God se wil is – om rugby my beroep te maak en vir die Bokke uit te draf. Ek wil ná my skoolloopbaan graag siviele ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch studeer en ook my eie onderneming begin,” sê De Wet.

Sy ouers, Lesley en Liezl de Wet, is sy grootste ondersteuners – en ook sy hele familie.

“Pniël speel ’n groot rol in my rugby, want my pa het my met rugby grootgemaak en my al baie oor die sport geleer. Hy en my skoolafrigter, Morné Kershoff, ondersteun my en moedig my aan, en daarvoor is ek baie dankbaar. Drie mense het elkeen vir my hul beste raad gegee, waaraan ek steeds vashou. Kershoff se raad was dat niemand vir jou kan sê jy kan nie, want as jou hart en kop op die regte plek is, sal niemand jou kan keer nie.

“My pa se raad is van die beste wat ek nog gehoor het, en dit was ‘if you want to be the best, you have to outwork the rest; to give up is not an option’.

“My ma se woorde is dat ek haar altyd sal trots maak, al het dit dalk nie so goed op die veld gegaan nie,” sê hy.

Ander raad wat hy van sy familie ontvang het, sluit in Tracey-Lee de Wet, naamlik dat daar ’n tyd is vir alles, maar nou is die tyd om naam te maak en jou talente en harde werk uit te leef.

Sy neef Benito Williams druk hom in die gimnasium en ondersteun hom as ’n broer, terwyl sy ouma Ann haar ondersteuning wys deur hom uit te smeer as sy liggaam seer is ná ’n wedstryd of ’n oefening.

“My raad aan jong spelers is om hard te werk en nooit op te gee op jouself nie, maar jy moet ook ’n liefde hê vir dit wat jy doen. Bly nederig en moenie vergeet waar jy vandaan kom nie.

“As jy ’n kans kry om oorsee te gaan speel, moet jy die kans aangryp, want jy doen nuwe ervarings op en leer ander mense en kulture ken. Terwyl ek in Doebai was, het ek geleer alles is gevorderd, maar daar is niks soos SA nie – en jou ma se kos bly maar die beste.

“Ek sal graag weer in Doebai wil speel, maar om die Cravenweekspan te haal, is nou my mikpunt,” sê De Wet.

Om te ontspan, kuier hy saam met vriende en familie en hy hou daarvan om in die natuur te wees en tyd in die gimnasium deur te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.