WP storm voort in hul Cravernweek aanslag en klomp hul bure, Boland, met 80-18.
WP was heeltemal te sterk gister vir hul Boland-bure en het hulle met 80-18 verslaan. FOTO: SA Rugby

Die Westelike Provinsie het gister Boland oorrompel terwyl die Sharks hoërskole-span Oostelike Provinsie ‘die mes op die keel gesit ‘n rugbyles geleer het by die FNB o.18 Cravenweek by Hoërskool Middelburg.

Die tweede dag van die toernooi het ‘n reeks boeiende wedstryde opgelewer, met 39 drieë wat oor die vier wedstryde aangeteken is – en 14 daarvan is in die Wes-Kaapse derby gedruk.

Valke-vleuel Dihan Crause het ‘n dubbelslag in die eerste wedstryd van die dag aangeteken, terwyl die Oos-Randers van ‘n vroeë agterstand teruggeveg het om met ‘n 19-12 voorsprong rustyd toe te gaan. Die Luiperds het egter die laaste sê gehad, met agtsteman Tiaan Koen wat in die 69ste minuut oor die doellyn gebots het om ‘n waardevolle 29-29 gelykopuitslag vir sy span te verseker.

Die wedstryd tussen Grens en Griekwas was in die weegskaal voordat die seuns van die Oos-Kaap na pouse begin weggehardloop het. Griekwas se dissipline het hulle in die tweede helfte gepootjie, en Grens het ten volle hieruit voordeel getrek deur altesaam ses drieë aan te teken.

Oostelike Provinsie het in ‘n fel betwiste eerste helfte teen die Sharks te staan gekom, maar het in die laaste stadiums van die wedstryd gesukkel om met die KwaZulu-Natallers tred te hou.

Sharks-heelagter Zekhethelo Siyaya – wat SA Skole in 2024 verteenwoordig het – het ná rustyd ‘n langafstand-drie aangeteken en met ‘n totaal van 10 punte geëindig, terwyl plaasvervanger-agterspeler Nathan Aneke ‘n dubbelslag geskiet het om sy span tot ‘n oortuigende 41-10 oorwinning te versterk.

In die laaste wedstryd van die dag het WP – wat verlede jaar se toernooi onoorwonne afgesluit het – hul veldtog ontploffend begin toe hulle Boland met 80-18 in die Wes-Kaapse derby verslaan het.

Agtsteman Quintin Potgieter het ‘n driekuns vir die Provinsie aangeteken, terwyl losskakel, Ethan van Biljon, 15 punte tot die saak bygedra het.

Die FNB o. 18 Craven Week sal vanoggend (9 Julie) by Hoërskool Middelburg voortgaan, met die Limpopo Blou Bulle wat die Griffons in die eerste wedstryd aanpak. Die Gou Leeus en Suidwestelike Distrikte, wat indrukwekkende oorwinnings teen die Blou Bulle en Vrystaat onderskeidelik op dag een behaal het, sal mekaar in die laaste botsing van die dag ontmoet.

FNB o. 18 Craven Week dag twee uitslae (Dinsdag, 8 Julie):

  • Luiperds 29 (12) teen Valke 29 (19)
  • Grens 36 (17) teen Griekwas 17 (10)
  • Sharks Hoërskole 41 (13) teen Oostelike Provinsie 10 (3)
  • DHL Westelike Provinsie 80 (40) teen Sanlam Boland 18 (6)

FNB O18 Craven Week dag drie wedstryde (Woensdag, 9 Julie):

  • 10:00: Limpopo Blou Bulle t. Griffons
  • 11:30: Westelike Provinsie XV t. Pumas
  • 13:00: Vrystaat t. Blou Bulle
  • 14:30: Goue Leeus t. SWD

You need to be Logged In to leave a comment.