Cloetesville-buurtwag kry gebou

Misdaadvoorkoming in Cloetesville het verlede Donderdag (23 Mei) ’n hupstoot gekry met die plaaslike buurtwag wat sy eie hoofkwartier ontvang het.


Misdaadvoorkoming in Cloetesville het verlede Donderdag (23 Mei) ’n hupstoot gekry met die plaaslike buurtwag wat sy eie hoofkwartier ontvang het.

Die nuwe gebou is amptelik deur Stellenbosch se eerste burger adv. Gesie van Deventer, onderburgemeester Jeremy Fasser, die munisipale bestuurder Geraldine Mettler en wyksraadslid Peter Johnson geopen.

Die nuwe gebou gaan nou ’n sentrale spil wees vir die gemeenskapslede wat lid is van die buurtwag. Die gebou in Firweg is deur die munisipaliteit opgeknap.

Volgens die munisipaliteit bied die nuwe fasiliteit ’n basis waar inwoners, munisipale wetstoepassers en die plaaslike polisie kan saamkom vir ’n gesamentlike poging om ’n veiliger omgewing te skep.

Die munisipaliteit het bygevoeg hy is vasberade om die buurtwagte te ondersteun met die nodige hulpbronne om hul noodsaaklike werk te doen.

“Jul toewyding om ons strate te patrolleer en ons gemeenskap te beskerm, is loflik. Dié nuwe gebou is nie net ’n struktuur nie, dit is ’n simbool van ons gesamentlike poging om die veiligheid en welstand van elke inwoner in Cloetesville te verseker,” het Van Deventer aan die buurtwaglede gesê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.