DA behou Wyk 9 in Eikestad

,

Dit blyk raadslid Isabelle de Taillefer se skuif om van die Vryheidsfront Plus oor te loop na die Demokratiese Alliansie was die moeite werd, maar met ‘n kiesersopkoms van slegs […]


Dit blyk raadslid Isabelle de Taillefer se skuif om van die Vryheidsfront Plus oor te loop na die Demokratiese Alliansie was die moeite werd, maar met ‘n kiesersopkoms van slegs 6,59% meen sommige die DA het nie juis iets om oor fees te vier nie.

De Taillefer het onlangs die VF Plus gegroet om as die DA se kandidaat vir Wyk 9 se tussenverkiesing te staan nadat voormalige raadslid Zelda Dalling bedank het.

Wyk 9, wat Stellenbosch se sakekern en ‘n gedeelte van die Universiteit Stellenbosch se kampus insluit, het 3 232 geregistreerde kiesers, maar slegs 190 stemmers het Woensdag 14 Mei hul kruisies getrek.

Benewens die lae opkoms van kiesers was daar ‘n beroep deur ‘n groep inwoners van die wyk om stembriewe te skrap in teenkanting van die Stellenbosch-munisipaliteit se planne om ‘n multi-verdieping parkeerterrein agter die stadsaal te bou. Dié omstrede plan om die dorp se voortslepende verkeerskopsere aan te pak is met sterk teenkanting begroet deur sommige in die gemeenskap sowel rolspelers soos Stellenbosch-fietsry en die Young Urbanists.

”Hierdie tussenverkiesing beteken nie alles gaan sommer net normaalweg voort nie.

“Dit is ons kans om te pleit vir Stellenbosch se toekoms – ‘n toekoms van loopbare ruimtes, volhoubare mobiliteit en respek vir demokratiese deelname.

“Ons doen ‘n beroep op alle Wyk 9-inwoners wat die parkeergarage teenstaan ​​om na die stembus te gaan en doelbewus en trots hul stembriewe te bederf,” het die groep in ‘n ope brief geskryf.

Ten spyte van die versoek het die DA die setel, wat hy in die 2021 munisipale verkiesing verower het, behou met 94,74% van die totale stemme.

Hierdie persentasie is op van 85,59% in die 2021 munisipale verkiesing.

You need to be Logged In to leave a comment.