Buite die politiek is Mynard Slabbert (nuwe wyksraadlid vir Wyk 21) ’n sakeman in die wyn- en uitgewersbedryf met ’n regsagtergrond. Hy het gespesialiseer in ruimte- en lugvaartreg by die Universiteit van Leiden.


Die Demokratiese Alliansie (DA) in Stellenbosch het sy setel in die raad behou toe sy wyksraadlid-kandidaat, Mynard Slabbert, verlede Woensdag (8 Maart) in ’n tussenverkiesing as die nuwe raadslid verkies is.

Die DA het die tussenverkiesing met 72,57% (1 386 stemme) gewen. Die ACDP het met 16,28% (311 stemme) en die onafhanklike kandidaat, Dawn van Wyk, met 5,92% (113 stemme) die tweede en derde meeste stemme gekry – hulle was ook die enigste ander kandidate wat meer as 100 stemme kon kry. GOOD het 4.08% (78 stemme) gekry, terwyl die ANC (0,68%) en EFF (0,47%) elk onderskeidelik 13 en 9 stemme gekry het.

Die DA se provinsiale leier, Tertuis Simmers, sê hierdie oorwinning verseker dat die wyk in bekwame hande bly en dat die nuwe wyksraadlid sal kan voortbou op die sukses van skoon bestuur en uitstekende dienslewering.

“Ons wens die nuutverkose DA-wyksraadlid, Mynard Slabbert, geluk met sy oorwinning. Mynard sal by ’n goed gevestigde span DA-raadslede aansluit onder leiding van die Stellenbosch-burgemeester, Gesie van Deventer. Ons wil ook die kiesers van Wyk 21 bedank wat weer hul vertroue in die DA gestel het, die enigste party wat dinge gedoen kry,” sê Simmers.

Slabbert sê sy benoeming en verkiesing is vir hom ’n besondere eer en hy besef dat die pos ’n groot verantwoordelikheid meebring.

“Die verkiesing is verby, en die sentiment van kiesers is duidelik gekommunikeer. Dis nou die tyd om op kernaspekte wat kiesers raak te konsentreer, en om met mekaar te skakel in ’n gees van samewerking. My doel is om voort te bou op die ongelooflike werk van my voorganger, Rikus Badenhorst. Ek sal met alle partye – in die munisipaliteit – en met burgerregteorganisasies, sportklubs en buurtwagte saamwerk om gemeenskapsveiligheid deurlopend te ondersteun en uit te brei,” sê Slabbert.

“Ek is as sakeman ’n groot voorstander van SME besighede wat floreer en werk skep. As raadslid is dit vir my belangrik om te beklemtoon dat ek raadslid vir alle inwoners is, en ek het onderneem om bereikbaar te wees om insette, idees en inisiatiewe te bespreek en om diensleweringskwessies te eskaleer indien inwoners deur die normale rapporteringskanale probleme ondervind,” sê hy.

Buite die politiek is Slabbert ’n sakeman in die wyn- en uitgewersbedryf met ’n regsagtergrond. Hy het gespesialiseer in ruimte- en lugvaartreg by die Universiteit van Leiden.

“Ek is die pa van twee kinders, en die lewensmaat van ’n wonderlike vrou wat die beste ondersteuning bied waarvoor ’n man ooit sou kon wens. Ek is ’n sportman en verteenwoordig die Westelike Provinsie en die nasionale spanne in JKA-karate. Ek hou daarvan om houtwerk te doen, en skryf graag kortverhale. Ek sien daarna uit om Wyk 21, die inwoners en my munisipaliteit te dien,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.