Rolspelers wat poog om Stellenbossers wat hulle op die straat bevind, te help het Vrydag (11 Oktober) ’n sessie vir haweloses in die Stellenbosch-stadsaal aangebied.


Rolspelers van Stellenbosch tot Bellville het Vrydag (11 Oktober) in die Stellenbosch-stadsaal byeengekom om die uitdagings van haweloses te bespreek.

Wêreld-dag vir Hawelose Mense (WHD) is op 10 Oktober gedenk en vandeesmaand kom verskeie organisasies byeen om mense wat sonder heenkome is, se lewe te probeer verbeter.

Benewens die hulporganisasies wat Vrydag byeengekom het, het plaaslike haweloses ook die geleentheid gehad om gesondheidsdienste te kry en om uit te vind waar hulle om hulp kan aanklop.

“WHD is ’n sleuteloomblik om erkenning te gee aan ’n gemeenskap wat grootliks ‘onsigbaar’ gemaak word deur ons stelsels en samelewing. Die dag bied ’n oomblik om bymekaar te kom as ’n sektor van die gemeenskap wat grootliks verspreid is. Ons is in staat om as individue in verbinding te tree en melding te maak van hoe ver ons gekom het, selfs terwyl ons erken hoe ver ons nog moet gaan,” meen Merin Raju Jacob, voorsitter van die Stellenbosch-hawelose forum.

Die dood van Ronnie Sikitasie op Donderdag 4 Julie het weer die aandag op plaaslike haweloses gevestig. Hy het vermoedelik in die dorpsgebied verkluim. Ná sy dood het plaaslike sakelui en die Stellenbosch-nagskuiling sowel as vrywilliges gewerk om komberse, klere en warm kos aan meer as 150 plaaslike haweloses te skenk.

Raju Jacob sê die uiteindelike doel is om mense van die strate af te kry. Haar rol as navorser by die Universiteit Stellenbosch kom ook goed te pas by die forum aangesien die organisasie die afgelope jaar gepoog het om vas te stel hoe en hoekom plaaslikes haweloos word.

“As belanghebbendes het ons bymekaargekom om gedeelde begrip te probeer skep, en drie stelle opnames in die groter Stellenbosch gedoen en het tot ’n paar belangrike besef gekom,” sê sy.

Die opnames het uitgewys dat Stellenbosch se haweloses nie ’n eenvormige, homogene groep mense is nie. Daar is diegene wat daar die dag op die strate wandel terwyl ander hierheen getrek het vir werksgeleenthede is en nou sonder heenkome is.

Die bevindinge het gewys die lyn tussen diegene wat kwesbaar is en dié wat haweloos is, is fyn.

“Baie van die uitdagings wat met haweloosheid gepaardgaan, is bloot omdat ons ekonomie stagneer en ons sukkel met massiewe werkloosheid. En ja, daar is soms kriminele elemente in die hawelose gemeenskap en dwelmmisbruik is algemeen, dikwels as ’n trauma-reaksie of as ’n manier om die lewe te hanteer.”

Kwessies soos die beskikbaarheid van openbare toilette en krane wat haweloses toegang tot sanitasiegeriewe gee is ook uitlig. Die om plaaslikes uit die siklus van haweloosheid te kry bly ’n langtermyn uitdaging.

“Dit is belangrik vir ons as rolspelers om saam met ander organisasies wat elders sukses behaal het te werk. Ons poog veral vir ’n U-Turn Homeless Ministries-inloopsentrum wat bystand gedurende die dag sal verskaf. Hulle het ook uitstekende program om individue te help om haweloosheid te oorkom deur vaardigheidsontwikkeling, die herstel van verslawing en werksgeleenthede,” verduidelik Raju Jacob.

Hulp vir haweloses is vir vele ’n tameletjie aangesien vele inwoners glo ’n geldjie sal net vir kwaad aangewend word. Inisiatiewe soos die Stellenbosch-munisipaliteit se GiveResponsibly-veldtog streef dus om haweloses eerder deur middel van koepons te help. Volgens die munisipaliteit is meer as R250 000 se koepons teen Junie vanjaar verkoop sedert die veldtog van stapel gestuur is. Haweloses kan met dié R10-koepon by die Stellenbosch-nagskuiling aanklop, waar hulle kos, ’n warm stort en ’n bed kan kry.

Volgens André Pelser, lid van die forum, neem haweloosheid ook hier toe. “Stellenbosch word allerweë as ’n welvarende gemeenskap en ook as ’n toeristebestemming beskou, tog neem die getal van bedelaars en haweloses toe. Vrydag se verrigtinge was daarop gemik om hoop en dienste aan die sowat 70 bywoners en ook iets te eet en drink te bied,” verduidelik hy.

Benewens die dienste was motiveringspraatjies en vermaak vir die bywoners aangebied.

Pelser meen Jan Alleman kan sy mede-inwoners help deur ’n kopskuif te maak. “Die publiek kan help deur die haweloses as mense te sien, nie net as ’n irritasie nie, en die onderskeie instansies wat hulle uit hulle situasie probeer help, te ondersteun.” Hy sê voorts plaaslike organisasies doen baie goeie werk, insluitend die Stellenbosch Civil Advocacy Network, die ABBA-netwerk, die departement van maatskaplike dienste en die munisipaliteit.

You need to be Logged In to leave a comment.