Vicki van der Merwe maak gereed om Woensdag 2 Oktober aan die Dagbreek-straatmyl deel te neem.


Die Olimpiese driekampatleet Vicki van der Merwe het haar visier op ’n eerste Dagbreek-straatmyl titel.

Die Stellenbosser het Suid-Afrika vroeër vanjaar by die Olimpiese Spele in Parys verteenwoordig. Sy is tans op goeie vorm en het Sondag 15 September die tweede plek in die Outsurance Gun Run in Kaapstad behaal.

Van der Merwe sê sy bring haar oefengroep saam na die Dagbreek-straatmyl. Sy kan sterk kompetisie verwag van die verdedigende kampioen Kayla Jacobs en Lisha van Onselen wat tweede oor die wenstreep in 2023 was. Jacobs en Van Onselen het albei SA vroeër vanjaar by die Wêreldlandloop-kampioenskap in Belgrado, Serwië, verteenwoordig.

Die 2022-wenner Kobie Griffiths neem ook weer vanjaar deel. Sy was onlangs derde in haar ouderdomsgroep by Atletiek Suid-Afrika se landloop-kampioenskappe.

Die 14de Dagbreek-straatmyl word Woensdag 2 Oktober in die boomryke Victoriastraat as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees aangebied.

Vanjaar is die 60ste herdenking van De Villiers Lamprecht se eerste droommyl by Coetzenburg op 13 November 1964. Om die geleentheid te herdenk sal daar ’n R1 000 bonusprys wees vir die eerste droommyl op die dag, insluitend die skaatsplank-afdeling. Die prys word deur Seeff, wat vanjaar ook 60 jaar oud is, geskenk.

Ander borge sluit in ASLA, goSolar, Sportsmans Warehouse, Simonsvlei en die US Alumni-kantoor. Daar sal ook pryse wees vir besgeklede deelnemers en toeskouers kan pryse wen met oorspronklike plakkate om die deelnemers aan te moedig.

Redbull sal musiek verskaf en die rasieleiers van die Hoërskool Stellenbosch sal tussen die wedlope vermaak verskaf om by te dra tot ’n feestelike atmosfeer.

Die skole-afdeling word vanjaar deur Sportsmans Warehouse geborg. Daar is kategorieë vir o.13-, o.15- en o.19-atlete. Talle topskole in die omgewing het reeds hul deelname bevestig. “Ons is bevoorreg dat ons die ondersteuning geniet van Johan Fourie en sy Dogsquad asook Elana Meyer en die Endurocad atlete,” sê die organiseerder Francois Fouché.

“Die mans ope-wedloop verseker elke jaar goeie opwinding. Ons was bevoorreg om al twee droommyle in Victoriastraat te sien – Johan Cronje, die SA Myl rekordhouer, in 2015, en Ryan Mphahlele, die huidige SA padmyl rekordhouer, in 2019.”

Verlede jaar se mans ope wenner Deon Lee Hendricks sê hy is reg vir ’n droommyl. Die naaswenner van 2022, Ashley Smith, is ook vanjaar terug. Emmanuel Fredericks het die naweek die Weskus Myl gewen en is dalk ’n buiteperd om dop te hou. Die Universiteit van Wes-Kaapland het ook aangedui hulle bring hul top atlete om ’n aanslag op die titel te maak.

Die hoogtepunt van die dag is die verering van SA atletiek se legendariese Zola Budd – 40 jaar nadat sy op 5 Januarie 1984 die wêreldrekord in die 5 000 m op Coetzenburg opgestel het en aan die Olimpiese Spele in Los Angeles deelgeneem het.

Budd is steeds die nasionale rekordhouer in die vrouemyl met ’n tyd van 4:23,38 wat sy op 4 Maart 1991 opgestel het. Sy spog met ’n beste myltyd van 4:17,57, wat sy in 1985 opgestel het en 38 jaar die Britse rekord was.

Sewe wedlope met 13 afdelings – van o.13 tot meesters en ’n skaatsplank-afdeling – word vanjaar aangebied. Registrasie open om 15:00 voor die Dagbreek-koshuis en die eerste wedloop is om 17:00. Die inskrywingsfooi is R40 en daar is medaljes en pryse vir die wenners in elke kategorie.

  • Vir navrae kontak Francois Fouché by 083 368 5948 of info@straatmyl.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.