’n Inwoner van woonstel 15 in die Melody-woonstel-blok in Cloetesville sê hy sukkel al langer as drie jaar met die munisipaliteit om die lekkasie in sy woning se dak reg te maak, maar geen aandag word daaraan gegee nie.
Volgens Warren van Wyk lek die dak so erg dat ’n dam water op die plafon lê en oral in sy woonstel begin drup het. “Elke keer as dit reën, is ons hele woonstel nat en dit drup net waar jy kyk. Elke keer as ons die munisipaliteit bel, kom iemand om te kyk, maar niemand kom maak iets reg nie. Hulle sê net hulle gaan terugkom, maar niemand kom weer terug nie,” sê Van Wyk.
“Drie jaar terug het een van die munisipaliteit se elektrisiëns gesê dis net ’n kwessie van tyd, dan val die plafon inmekaar, en die muf in die plafon hou ’n gesondheidsgevaar in vir ons wat hier woon. Ek verstaan nie – ek is op datum met my huur en betaal getrou my belasting, maar ek word nie gehelp nie. As ’n mens nou agter raak, word jou krag vinnig afgesit, maar dienslewering is nie na wense nie.”
Van Wyk het skermgrepe van sy mees onlangse klagtes op die munisipaliteit se dienslewering-toepassing geneem.
Die munisipaliteit sê hy is bewus van sekere eenhede in die Melody- en Monte Christo-woonstelblokke waarvan die dak lek.
“Mnr. van Wyk se klagtes is ontvang, die verwysingsnommers is deurgegee en die aangeleentheid geniet dringende aandag,” het die munisipale woordvoerder Stuart Grobbelaar gesê.
Grobbelaar sê ’n kontrakteur is reeds aangestel om met die herstelwerk en verseëling teen verdere lekkasies te begin.
“Die kontrakteur sal met werk begin sodra die gure weerstoestande opgeklaar het en dit veilig is.”