Dani Villé, ‘n veelsydige en talentvolle sangeres en liedjieskrywer van die Paarl, het onlangs haar nuutste enkelsnit, “Jy’s Okay”, vrygestel – ‘n liedjie wat tydens ‘n musiekreis na Berlyn, Duitsland, ontstaan het.
Dani, wat as voltydse musikant floreer, tree gereeld by feeste, troues en korporatiewe gesellighede op. Sy het in 2023 vir drie maande Berlyn toe gereis om haar musiek met internasionale gehore te deel. Hierdie ervaring het ‘n groot invloed op haar kreatiewe proses gehad.
“Ek het ongelooflike nuwe musiekervarings in Berlyn beleef en baie mense in die internasionale musiekbedryf ontmoet,” vertel sy. “Maar ek het my kêrel en mense in Suid-Afrika vreeslik gemis. Ná ‘n maand het ek gewonder of ek die regte ding doen. Dit was toe dat hy my gemotiveer het om deur te druk.”
Die liedjie is op Vrydag 11 Julie uitgereik en is die eerste van verskeie nuwe werke wat sy in haar tydjie in Berlyn geskryf het.
Sedertdien het sy nuwe enkelsnitte uitgereik, insluitend “Blinkers”, “Alles”, “Liefdeskind” en “Ruled by You”. Tussen optredes en nuwe vrystellings het Dani ook in haar musiekonderneming belê en in 2020 ‘n drie jaar diploma in musiekbesigheid aan die Campus of Performing Arts in Kaapstad voltooi.
Dani Villé se musikale reis gaan met ‘n vol optredekalender en verskeie nuwe liedjies wat binnekort vrygestel word, steeds van krag tot krag.
• Dani tree Sondag (27 Julie) by die Delheim-wynlandgoed by die gewilde Delheim Live Music and Cheese Fondue Sunday-reeks op. Kaartjies is aanlyn by Quicket te koop.


