Danie Conradie, ’n matriekleerder aan Paul Roos Gimnasium, het in Oktober, ten spyte van die grendeltyd, 92% in die graad 8-Unisa-klaviereksamen behaal.
Unisa nooi jaarliks ongeveer 12 toppresteerders in die graad 8-kategorie na ’n nasionale beurskompetisie, 2020 South African Music Scholarship Competition, wat in Pretoria gehou word. ’n Vorige Paul Roos-leerder wat hieraan deelgeneem het, was David Wolfswinkel.
Danie is reeds van 2016 ’n leerder van Ronella van Rensburg van die ScoreS2Duo Privaat Musiekstudio, Stellenbosch en hy ontvang ook ’n aanlyn meesterklas by dr. Liezl-Maret Jacobs.
Danie beklee tans die derde akademiese klasposisie met ’n gemiddelde van 92,1%. Hy bespeel ook die altviool in die Paul Roos Gimnasium aanlyn musiekproduksie met ’n baie gepaste tema vir die feestyd, Splendidior 2020. Kaartjies is by Webtickets beskikbaar.