Die legendariese atleet en oud-Dagbreker Danie Malan word tydens die 13de Dagbreek-straatmyl, wat Woensdag 11 Oktober in Victoria-straat plaasvind, vereer.

Tydens die gewilde geleentheid word Malan se wêreldrekord in die 1 000 m, wat hy op 24 Junie 1973 in Munchen, Duitsland voor ’n skare van 30 000 mense opgestel het, herdenk. Daar sal spesiale pryse wees vir die eerste atlete by die 1 000 m merk. Malan en sy atletiek tydgenoot Dicky Broberg sal teenwoordig wees.

Tydens ’n een-uur byeenkoms op 31 Maart 1971, het Dicky en Danie ’n oomblik verseker wat Coetzenburg seker nooit sal vergeet nie. Dicky se tyd van 1:44.7 was nie net ’n nuwe Suid-Afrikaanse- en Afrika-rekord nie, maar dit was ook 0.4 sekondes buite die wêreldrekord. Danie was tweede in 1:45.1. Die tye sou hul eerste en vierde op die vorige jaar se wêreldlys geplaas het. Hullis is in 1971 gesamentlik aangewys as die Maties sportster van die jaar.

Kobie Griffiths kom verdedig haar ope vroue-titel wat sy verlede jaar gewen het. Sy het onlangs ’n bronsmedalje by Atletiek Suid-Afrika se landloopkampioenskappe verower.

Francois Fouche, organiseerder van die Dagbreek-straatmyl sê hulle is gelukkig om die ondersteuning van Endurocad se Elana Meyer en Zola Budd te hê, asook die Dogsquad van Johan Fourie. Endurocad se atlete sal ook deelneem

Sewe wedlope met afdelings van o.13 tot Meesters (atlete 40 en ouer), asook die enigste skaatsplank myl-wedloop in SA sal aangebied word. Registrasie vir die straatmyl, wat deel vorm van die US Toyota Woordfees, open om 15:00.

Rig alle navrae aan Fouche by 083 368 5948.

You need to be Logged In to leave a comment.