Pieter Langeveldt Primêre Skool het Woensdag 17 Oktober sy 41ste verjaarsdag met ’n kort byeenkoms gevier waar leerders hul blydskap en waardering deur middel van sang teenoor die skool betoon het.
Die viering het Vrydag 19 Oktober voortgeduur met ’n formele byeenkoms en dankseggingsdiens.
Die skoolhoof, Liezl Terhoeven, sê die skool is veral trots op oudleerders wat ten spyte van hul omstandighede uitgestyg het.
Sy sê ook die skool het die afgelope twee jaar baie onder misdaad deurgeloop.
“Die skool is die afgelope twee jaar baie geplunder en hier moet ons die onderwysdepartement asook private maatskappye bedank dat hulle in tye van nood ingespring het.
“Ons skool bedien ’n gemeenskap waar armoede hoogty vier, maar onderwysers loop daagliks die ekstra myl om vir die leerders die beste te gee en dit weerspieël in ons akademie, sport en kultuur.”
Die skool het baie uitdagings en het nie ’n skoolsaal nie, wat volgens Terhoeven die leerders veral in die winter negatief raak.
“Die totstandkoming van ’n skoolsaal sal soveel groter moontlikhede bewerkstellig wat betref byeenkomste, gesellighede, kultuur en sport.”
Terhoeven is dankbaar aan alle ouers, oudleerders, gemeenskapslede en sakeondernemings vir hul volgehoue ondersteuning van die skool.
“Elke verjaarsdag is ’n bedekte seën van Bo waarvoor die skool baie dankbaar is.”