Six Step Studio se Johan Cilliers, Lesha Myburgh, die afrigter Nolan Jacobs en Caite Pieterse en (voor) Björn Walters en Tallulah Reyneke.


Ses dansers van Six Steps Studio in Stellenbosch het vanjaar die eerste keer aan die SA kampioenskap vir uitvoerende kunste deelgeneem en uitgeblink.

Die dansers Nolan Jacobs (30), Johan Cilliers (15), Tallukah Reyneke (17), Lesha Myburgh (17), Björn Walters (25) en Caite Pieterse (16) het van 20 tot 28 September in Rustenburg aan die nasionale kompetisie deelgeneem. Nolan is ’n tweemalige wêreldkampioen met ervaring in beide nasionale en internasionale kompetisies en aan die stuur van die groep.

In Rustenburg het die groep onder meer in hip-hop en kontemporêre hip-hop in albei groepe en as individue deelgeneem. Uiteindelik het hulle vier goue medaljes, een silwer en een brons verower.

Die ses dansers het verskillende vertolkings as Six Dimension, Twinkle Toez, Total Eclipse, Fourtify en False Confidence gelewer, terwyl Caite ’n brons vertoning in die kontemporêre solodans-afdeling vir 16- tot 17 jariges opgelewer het.

Hulle is saam as die beste dansgroep aangewys en het die trofee as die algehele wenner en die grand champion-trofee vir die dansgroep met die hoogste telling vir die hele kompetisie ontvang. Die klub se kleiner groep, Fortify – Nolan, Jacobs, Tallulah en Lesha – het ook geskitter en die groep is in die Suid-Afrikaanse span opgeneem om aan die wêreldkampioenskap, wat in Los Angeles plaasvind, deel te neem. Die Suid-Afrikaanse span sal in Julie 2025 in Amerika dans.

Hoewel die plaaslike span ’n skitterende vertoning gelewer het, was die pad na Rustenburg nie sonder sy struikelblokke nie.

Nolan en die groep het in Augustus vir oudisies gegaan, waar hulle gekies is om die provinsie te verteenwoordig.

Nolan se choreografie as afrigter moes egter geskrap word omdat die danse te lank was.

Met slegs een maand voor die kompetisie moes nuwe choreografie geskep word en die dansers moes dit onder die knie kry. Dit het drie oefensessies van twee tot vier ure per week geverg.

Six Step Studio het in 2019 begin toe Nolan uit sy ouerhuis in Idasvallei begin hip-hop-klasse gee het. In 2023 het die klasse na De Laer, die Ou Voortrekkersaal, verskuif. Deesdae is sy spesialiteit hip-hop vir beginners en gesoute dansers, B-boy en break dance, sowel as kontemporêre hop en dans spesifiek vir kompetisies en vertonings.

Die dansgroep meen dit was hul kommunikasie, band en die vertroue wat hulle in mekaar het wat vir hul wenresep gesorg het.

“Dit het dit vir ons moontlik gemaak om aan te pas, te improviseer en vir mekaar toe te gee. Eerlikheid, harde werk en om mekaar te ondersteun het ’n goeie omgewing geskep om in so ’n kort tydperk te leer,” het die dansers gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.