Die ekonoom Dawie Roodt is een van die gassprekers by die Helpende Hand in die Wes-Kaap se sakeontbyt op 14 Maart.Foto:


Die organisasie Helpende Hand in die Wes-kaap hou 14 Maart ’n sakeont­byt met die bekende ekonoom Dawie Roodt, asook die skrywer en direkteur van Solidariteit, Hannes Noëth, as sprekers.

Dit ontbyt vind op die wynplaas Avontuur buite Stellenbosch plaas.

Die doel van oggendgeleentheid is om geld in te samel vir studente in die Wes-Kaap om verder te gaan studeer, sê Alisha de Lange, streekorganiseerder van Helpende Hand in die Wes-Kaap.

Volgens haar kon hulle vanjaar altesaam 81 kinders help om te gaan studeer. “Die waarde van hierdie studietoekennings is ongeveer R2,7 miljoen. Hierdie is rentevrye studielenings en die dag as die kinders begin werk, begin hulle rentevry terug te betaal.”

Sy sê verder dat baie van hierdie kinders die eerste in hulle familie is wat die geleentheid kry om verder te gaan studeer. “Om vir iemand so ’n geleentheid te gee, verbreek die armoede-sirkel en help sodoende dat ’n nageslag gehelp word. As hierdie jou inspireer, kom eet saam ontbyt en luister na Dawie Roodt. Enigeen is welkom om dit by te woon. Dis ’n ideale geleentheid vir ondernemings om hul kliënte te nooi en so ook te netwerk,” voeg De Lange by.

Kaartjies kos R290 en sluit ’n heerlike ontbyt in. Slegs ’n beperkte hoeveelheid kaartjies is nog beskikbaar. Om te bespreek, stuur e-pos aan alisha@helpendehand.co.za

You need to be Logged In to leave a comment.