Haar plek is dalk leeg, maar die mooi herinneringe van haar maak haar teenwoordigheid steeds tasbaar onder vriende en kollegas by De Jagers in Stellenbosch en elders.
Dit is soms moeilik om hulde te bring aan ’n geliefde vriend of kollega wat jy aan die dood afstaan, maar vir iemand wat soos Cynthia Steyn diep spore in ander se lewe getrap het, vloei woorde in oorvloed.
Die De Jagers-groep wil hulde bring aan Cynthia Steyn vir hoe sy die Stellenbosch-gemeenskap gedien het met uitmuntende verkoopsdiens en haar uitsonderlike vermoë met ’n naald en gare.
Cynthia (77) is op 8 Junie ná drie jaar aan emfiseem oorlede.
“My eerste ontmoeting met Cynthia was as jong student. My pa het my na haar gestuur om te leer hoe om ons klante te bederf. Sy was ’n meester in verkope en het net geweet hoe om ons klante gelukkig te hou. Dis asof sy met elke klant ’n persoonlike verhouding opgebou het,” vertel Andries de Jager.
Sy was ’n mense-mens en het geweet hoe om mense spesiaal te laat voel. Sy was liefdevol en het deernis getoon aan almal met wie sy in aanraking gekom het.
“Ek het jare later gesien hoe klante van Namibië hul kinders bring om skooldrag by Cynthia te koop. Met die herontmoeting het die mamma Cynthia omhels asof hulle ou vriendinne is. Dit is sprekend van hoe sy haar klante bederf het.”
Cynthia het ook haar kollegas bederf. “Ons het die gewoonte gehad om ons kosgeld saam te gooi en dan het Cynthia vir ons die lekkerste broodjies gemaak. Toe die winkel nog onder op die hoek van Bird- en Dorpstraat was, het ons op ’n baie warm dag in Februarie tydens voorraadopname aan die einde van die jaar kaalvoet in die Eersterivier gaan sit om ’n bietjie af te koel – broodjie in die hand,” onthou Andries.
Cynthia kon met naald en gare “toor”.
“Of dit my suster se trourok was, of braide vir ’n erekleurbaadjie, of ’n rok wat ter elfder ure verstel moet word – sy het gereeld tot laatnag gewerk om haar klante gelukkig te hou.”
Cynthia was ’n bekende in Stellenbosch. “By haar afskeidsgeselligheid by De Cameron het een van die dorp se bekendste sakelui oorgestap om hulde aan Cynthia te bring en haar legendaries genoem. Sy was voorwaar ’n lewende legende en dit was ’n voorreg om deur haar opgelei te word en saam met haar in ’n span te werk.”